Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Intensiteit van Aotearoa ‘eis tol op spelers’

Die intensiteit van Nieu-Seeland se Aotearoa-rugbyreeks dra by tot die sukses van dié kompetisie, maar spelers kan net vir ’n beperkte tyd vlakke soortgelyk aan toetsrugby handhaaf voor die fisieke en geestelike druk sy tol eis.

Andrew Makalio van die Crusaders word aan die enkel deur Mark Abbott van die Hurricanes beetgekry in dié spanne se onlangse wedstryd in die Aotearoa-reeks. Foto: Getty Images

Nieu-Seeland se vyf Super-franchises speel sedert Junie in ’n plaaslike reeks nadat die Superrugby-reeks, waarin spanne van Suid-Afrika, Australië, Argentinië en Japan ook gespeel het, weens die Covid-19-pandemie en gepaardgaande reisbeperkings opgeskort is.

Aangesien elkeen van dié kragmetings taai Kiwi-derbies is, word geweldige eise weekliks aan spelers gestel.

“Jy hoef net na die wedstryde te kyk,” het Rob Nicol, uitvoerende hoof van die Nieu-Seelandse Rugbyspelersvereniging, Maandag gesê.

“Hulle (die wedstryde) is emosioneel en fisiek geweldig intens. Dis so naby as wat jy aan toetsrugby gaan kom.

In ’n stadium moet jy kan ontspan, herstel, jou fokus herwin en dan weer inval.

“Ons weet almal as jy spelers vra om drie toetse in agtereenvolgende weke teen toplande te speel, is dit geweldig moeilik om jouself week ná week op die regte geestelike en fisieke vlak te kry.”

Al die spanne in die Aotearoa-reeks se beseringslyste raak ook by die dag langer, met Jason Holland, die Hurricanes se afrigter, wat Maandag gesê dit sou vir sy span baie moeilik gewees het as hulle die komende naweek ’n vyfde opeenvolgende wedstryd moes speel.

Rob Nichol, uitvoerende hoof van Nieu-Seelandse rugby se spelersvereniging. Foto: Getty Images

Die Hurricanes het dié week ’n loslootjie voor hulle hul laaste twee wedstryde van die seisoen speel en Holland het geskerts sou hulle moes speel, hy en Cory Jane, sy een hulpafrigter, gedwing sou word om weer hul stewels aan te trek.

“In ’n stadium moet jy kan ontspan, herstel, jou fokus herwin en dan weer inval,” sê Nichol.

“Ek dink wat julle van die afrigters en spelers hoor, is dat dit lekker is om dié soort rugby vir die toeskouers op te dis, maar ons kan op hierdie vlak vir net so lank aangaan.”

Hy erken nietemin die intensiteit van die kompetisie is die rede dat toeskouers na wedstryde stroom of tuis voor die kassie vasgenael is.

Dis gehalte bo kwantiteit en dis wat mense in die post-Covid-era verkies.

Van die kritiek teen die Superrugby-reeks voor die pandemie dit tot stilstand gedwing het, was juis dat te veel wedstryde nie mededingend was nie en swak rugby opgelewer het.

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie se voorgestelde plan vir ’n kompetisie in 2021 is dat drie tot vyf spanne hulle by die vyf Kiwi-franchises voeg. Dit kan twee tot vier Australiese spanne, asook ’n Suidsee-eilandspan insluit.

Enige toekomstige formaat moet minstens plek maak vir twee weke se ruskans, sê Nichol.

Hy glo egter die huidige reeks het bewys dat minder dalk beter is.

“Dis gehalte bo kwantiteit en dis wat mense in die post-Covid-era verkies,” sê hy. – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.