Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Ivan krap kop oor rustyd-babelas

Daar is iets wat Ivan van Rooyen, die hoofafrigter van die Leeus se rugbyspan, net nie kan kleinkry nie.

Hoekom kon sy span nog nie in een van hul ses Superwedstryde vanjaar in die eerste 20 minute ná rustyd punte aanteken nie?

Ivan van Rooyen. Foto: Gallo Images

“Ek het in al my jare wat ek by rugby betrokke is nog nooit só iets beleef nie,” erken hy.

“Dit slaan my heeltemal dronk. Ons het omtrent al kopgekrap daaroor as afrigtingspan, maar kan nie met ’n antwoord vorendag kom nie. Dit is baie vreemd,” sê hy.

Van die 40ste tot die 60ste minuut in al hul wedstryde kon die Leeus nog glad nie die telbord aan die roer kry in hul guns nie.

“Nog in al ons wedstryde was ons rustyd in die prentjie, maar het daardie eerste 20 van die tweede helfte ons gekos. Teen die Reds en die Stormers kon ons darem in die laaste kwartier goed terugveg,” voeg hy by.

“Dit is iets waaroor ons nou in hierdie aftyd sal moet besin en probeer uitpluis. Wanneer ons weer begin oefen, sal ons dalk elke nou en dan so vyf of tien minute ’n blaaskans vat en dan kyk hoe ons vaar as ons weer begin oefen,” sê hy.

Die Leeus is die Suid-Afrikaanse span wat die swakste in die reeks vertoon en net die Sunwolves is tussen hulle en die algehele laaste plek op die punteleer. In die lig daarvan sê Van Rooyen die Leeus sal dinge so eenvoudig moontlik probeer hou wanneer die reeks hervat word.

“Ons moenie dinge vir onsself kompliseer nie,” glo hy.

“In die eerste deel van die seisoen het ons foute ons baie duur te staan gekom. Elke keer wanneer ons ’n fout maak, kos dit ons óf sewe punte óf ons is 30 tot 40 meter nader aan ons eie doelpale. Dit is daardie klein oomblikke in ’n wedstryd wat ons kos,” reken hy.

“Ons het goeie planne gehad voordat ons Australasië toe is en ons toer was goed uitgewerk. Op die veld het dinge net nie gebeur nie, maar ek voel ons het baie waardevolle lesse geleer. Ons gaan indringend kyk na ons strukture.”

Op die vraag hoekom Jannie du Plessis, wat van die Franse klub Montpellier aangeskaf is, tot dusver spaarsaam gebruik is en reeds in twee van die ses wedstryde glad nie deel van die groep was nie, sê Van Rooyen dit is bloot deel van die rotasiebeleid. Daar is drie vaskoppe – Du Plessis, Carlu Sadie en Frans van Wyk – in die Leeus se groep.

“Jannie sou beslis weer in ons laaste toerwedstryd teen die Highlanders gespeel het,” sê hy.

In sekere kringe word gewonder of Van Rooyen, ’n jong en nuwe afrigter, toegelaat word om sy eie stempel van bo in die unie op die span af te druk.

“Rudolf (Straeuli, die uitvoerende hoof) laat my beslis toe om my eie mens te wees. Hy het wel op die toer ingesit by vergaderings en was betrokke by oefeninge, maar hy was ’n groot hulp en het leiding en raad gegee. Hy het beslis nie ingemeng nie,” sê Van Rooyen.

“Ons is ’n gelukkige span en daar heers ’n goeie atmosfeer. Ons doen ons bes om dit so genotvol as moontlik vir die spelers te maak,” sê hy.

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby  |  Ivan Van Rooyen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.