Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘Jaguares hoort nie in Superrugby’

Die Jaguares is ’n nasionale span wat nie toegelaat moet word om in ’n kompetisie soos die Superrugby-reeks te speel nie.

Javier Ortega Desio bemeester die afgelope naweek ’n lynstaanbal vir die Jaguares teen die Waratahs. Foto: Getty Images

Dit is die mening van die oud-Wallaby en uitgesproke kommentator Phil Kearns nadat die Jaguares die Waratahs Saterdag met 23-15 in Sydney geklop het.

“Hierdie is ’n provinsiale kompetisie (die Superrugby-reeks), dit gaan daaroor dat provinsiale spanne daaraan deelneem. Dis nie bedoel vir ’n nasionale span nie,” het Kearns ná die wedsryd in ’n onderhoud met die uitsaaier Fox Sports gesê, aldus stuff.co.nz

“Ek dink Argentinië was baie slim en het die res van Sanzaar (die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond) geflous, want hulle gaan ’n baie sterk span wees teen die tyd wat die Wêreldbeker-toernooi begin, omdat hulle vir die laaste drie jaar saamgespeel het.”

Die 51-jarige Kearns, wat in 67 toetse vir Australië gespeel en ook die span soms aangevoer het, het self vir die Waratahs uitgedraf.

Hy is egter nie die enigste oud-Wallaby wat gal braak oor die Jaguares se deelname in die Superrugby-reeks nie. Ook Mark Ella het in ’n rubriek in The Weekend Australian sy ongelukkigheid daaroor laat hoor.

Phil Kearns in sy speeldae vir Australië. Foto: Getty Images

“Die Rugbykampioenskap en die Superrugby is nou regoor die aardbol en word op elke vasteland in die Suidelike Halfrond gespeel. Geen ander sportspan in enige kompetisie in die wêreld reis sulke afstande soos die rugbyspanne van die Suidelike Halfrond nie.

“Die Jaguares speel in die Superrugby in die Suid-Afrikaanse groep, tog is die afstand tussen Buenos Aires en Johannesburg 8 000 km. Dit bewys net dat Argentinië meeding waar hy nie hoort nie,” sê Ella.

Die Jaguares, wat sedert 2016 aan die Superrugby-reeks deelneem, is natuurlik op die punt om vir vanjaar se uitkloprondes te kwalifiseer. Hulle loop voor op die puntelys in die SA groep en as hulle enduit daar kan bly, sal hulle ’n kwarteindstryd op hul tuisveld aanbied.

Die Argentyne se toetrede tot die kompetisie het saamgeval met die toetrede van die Sunwolves en die Southern Kings. Die span van die Oos-Kaap is sedertdien die deur gewys saam met die Cheetahs en die Western Force, terwyl 2020 ook die laaste jaar gaan wees wat die Sunwolves aan die kompetisie sal deelneem. – Sportredaksie

Meer oor:  Wallabies  |  Superrugby  |  Jaguares  |  Phil Kearns  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.