Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Flip: 'Jake presies wat Bulle benodig'

Hy het sy nukke gehad, maar Jake White is dalk presies wat nodig is om die Bulle weer te laat herleef.

“Want een ding is seker, Jake is nie onder ’n klip gebore nie,” sê Flip van der Merwe, voormalige Springbok-slot van die Bulle.

Flip van der Merwe met die bal onder die arm vir die Franse klub Clermont Auvergne teen Ulster. Dié voormalige Bok-slot het verlede jaar ná vier seisoene in Frankryk sy stewels weggepak. Foto: Getty Images

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het verlede week aangekondig White is sy nuwe direkteur van rugby en sal ook van 2021 af die span se hoofafrigter wees.

Van der Merwe, wat verlede jaar ná vier seisoene by die Franse klub Clermont Auvergne uitgetree het, sê White se rugby-CV kan nie bevraagteken word nie.

“Ja, hy is bekend vir sy omstrede uitsprake en hy is seker nie oral gewild nie.

“Maar hy is ook ’n suksesvolle afrigter. Ek sal nooit vergeet hoe die Brumbies ons in 2013 in die halfeindstryd (van die Superreeks) op Loftus kom klop het nie.

“Ek dink ook aan die tyd toe hy by Montpellier was. Dit is nooit maklik om teen ’n span wat Jake afrig te wen nie.”

Hy hoop net White “sal sy trots in sy sak steek en iemand soos Victor Matfield betrek”, sê Van der Merwe.

“Ek dink Victor kan ’n groot verskil maak om die Bulle-kultuur weer by die spelers tuis te bring.

“Dit lyk of dit iets is wat so ’n bietjie verlore gegaan het by Loftus.”

Van der Merwe voorspel baie sal afhang van die talent wat by die Bulle tot White se beskikking is.

“Rassie (Erasmus) het altyd gesê jy gaan nie die Durban July met ’n donkie wen nie.

“Jake sal die regte spelers moet kry en talent moet ontwikkel. Ek dink hy is die regte man vir die uitdaging.”

Van der Merwe op die aanval vir die Bulle in 2013 toe Jake White se Brumbies op Loftus Versfeld kom verras het in die halfeindstryd van die Superreeks. Foto: Gallo Images

Van der Merwe is deesdae ’n ontwikkelingsingenieur by ’n maatskappy in Clermont en doen ook tussendeur sy MBA.

“Jy raak gewoond aan die Europese leefstyl en ek is nie van plan om gou terug te kom Suid-Afrika toe nie.

“Daar is ’n tyd van onsekerheid ná rugby waarin ’n ou nie weet wat jy regtig wil doen nie.

“Die oorgang is nogal ’n aanpassing. Om rugby te speel en dan in ’n kantoor te sit, is nie dieselfde nie. ’n Mens kom gou agter jy leef in ’n bubble wanneer jy rugby speel.

“Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om jouself te bemagtig vir die lewe ná rugby nie.”

Van der Merwe sê dit lyk soos die wegraping in Clermont met Frankryk wat in ’n derde week van inperking is weens die koronavirus.

“Die mense is baie gehoorsaam hier en die strate is verlate. Ek voel selfs skuldig om winkel toe te gaan.

“Gelukkig het my woonstel ’n tuin, anders sou dit nogal ’n storie gewees het.”

Meer oor:  Jake White  |  Bulle  |  Superrugby  |  Flip Van Der Merwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.