Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jake soek beter samespel, ritme teen Haaie

Gewoonlik wanneer daar ses veranderings in ’n rugbyspan aangebring word, sal die afrigter taamlik onrustig wees oor die moontlike ontwrigting wat dit op die veld kan inhou.

Onthou julle hom nog? Marcel van der Merwe is terug om Saterdag die Bulle se skrum teen die Haaie te anker. Foto: Gallo Images

Die Bulle-breier, Jake White, wil juis beter samespel en ritme op die aanval en verdediging sien wanneer sy span Saterdag die Haaie op Loftus Versfeld aandurf in die Suid-Afrikaanse Superrugby-kompetisie.

Daar is onder meer vier veranderings in die agterlyn en in die agttal maak die byna vergete Springbok-stut Marcel van der Merwe sy langverwagte terugkeer in ’n Bulle-trui.

Hy vervang Trevor Nyakane aan die vaskopkant, terwyl die jong Elrigh Louw op flank ’n kans kry in Arno Botha se plek.

Agterlangs is Travis Ismaiel, Stedman Gans, Kurt-Lee Arendse en Ivan van Zyl terug in die opdrafspan ten koste van onderskeidelik Gio Aplon (beseer), Clinton Swart, Jade Stighling en Embrose Papier.

White sê hy is nie bekommerd om sonder Nyakane en Botha te begin nie.

“Baie van daardie ouens sal ná rustyd op die veld wees.

“Ek was baie tevrede met ons plaasvervangers se impak verlede week (teen die Cheetahs in Bloemfontein).”

Ek hoop dit is ons wat eerste op dreef kom, hoewel ons waarskynlik ’n effense agterstand het omdat ons ’n nuwe groep is.

White is gevra wanneer hy dink die spanne in die kompetisie goed op dreef gaan kom.

“Ek wens ek het geweet. Om eerlik te wees, ons het nog nie regtig goeie rugby gesien nie (nadat die spel verlede maand hervat is).

“Daar is nog baie foute en wedstryde kom nie aan die gang nie weens beslissings van skeidsregters wat toegee hulle moet nog van die nuwe reëlvertolkings onder die knie kry.

“Ek hoop dit is ons wat eerste op dreef kom, hoewel ons waarskynlik ’n effense agterstand het omdat ons ’n nuwe groep is.

“Ons weet dit en werk hard. Dit is nie ’n verskoning nie.”

Van der Merwe, ’n oud-Bul, is ná vier seisoene wat hy vir die Franse klub Toulon in die voorry gesak het, terug op Loftus.

Hy het in Julie 2016 sy laaste wedstryd vir die Bulle in die Superreeks gespeel voordat hy Frankryk toe is.

Dit is Saterdag ook sy 30ste verjaardag, wat Van der Merwe se Loftus-tuiskoms ’n heuglike dag maak.

White sê Van der Merwe het hom baie beïndruk toe hy Montpellier afgerig het.

“Toe Marcel by Toulon was, het hulle een van die sterkste skrumpakke in Europese rugby gehad.

“Hy het baie goed geskrum vir Toulon en hy het die laaste tyd baie hard aan sy kondisionering gewerk.”

Afgesien van die beseerde Gio Aplon, het White dieselfde agterlyn gekies wat met soveel venyn aangeval het verlede maand teen die Haaie in die spanne se Superfan-wedstryd.

Bulle: David Kriel, Travis Ismaiel, Stedman Gans, Cornal Hendricks, Kurt-Lee Arendse, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Duane Vermeulen (k), Elrigh Louw, Marco van Staden, Ruan Nortjé, Jason Jenkins, Marcel van der Merwe, Johan Grobbelaar, Jacques van Rooyen. PLAASVERVANGERS: Joe van Zyl, Gerhard Steenekamp, Trevor Nyakane, Sintu Manjezi, Arno Botha, Embrose Papier, Chris Smith, Marco Jansen van Vuren.
Meer oor:  Haaie  |  Superrugby Unlocked  |  Jake White  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.