Jake White sal in 2021 die Bulle se hoofafrigter wees.
Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het dít bevestig ’n dag nadat White as sy nuwe direkteur van rugby aangewys is.

Jake White groet in November 2007 in Cardiff ná sy laaste toets as Springbok-afrigter. Foto: Gallo Images
Dit beteken Pote Human, die span se huidige hoofbreier, sal nie gevra word om hom weer vir die pos beskikbaar te stel nie.
White sal die Bulle se vyfde Superrugby-hoofafrigter sedert 2015 word ná Frans Ludeke, Nollis Marais, John Mitchell en Human.
Alfons Meyer, die BBM se uitvoerende hoof, het ook die versekering gegee dat White nie – soos Mitchell in 2018 – toegelaat sal word om te kom en gaan nie.
Dié Kiwi is in 2017 met groot fanfare as die Bulle se hoof van rugby en hoofafrigter onthul, om net meer as ’n jaar later sy tasse vir Engeland te pak.
White en Mitchell is albei van wêreldrugby se grootste trekvoëls, maar Meyer sê hulle is nie bekommerd dat die voormalige Bok-afrigter se aanstelling op ’n Mitchell-sage sal uitloop nie.
“Nee, ons het lank met Jake daaroor gesels. Hy het in detail verduidelik wat in die verlede gebeur het by die ander spanne wat hy afgerig het.
Ons is oortuig dat Jake hom ten volle tot die Bulle verbind het.
“Daar is ook ’n klousule in sy kontrak wat hom sal verhoed om na die volgende beste pos te spring.
“Ons is oortuig dat Jake hom ten volle tot die Bulle verbind het,” sê Meyer.
White het in die onlangse verlede by meer as een geleentheid gesê hy sal graag weer op internasionale vlak wil afrig.
Hy het die Springbokke van 2004 tot 2007 gebrei.
Eddie Jones, breier van Engeland, het aan die einde van verlede jaar in sy outobiografie, Eddie Jones, My Life and Rugby, geskryf hy het White in 2015 uitgestof toe hulle albei in die wedloop was om as die Rose se nuwe hoofbreier aangestel te word.
White het, volgens Jones, reeds ’n onderhoud met die Engeland Rugbyunie (RFU) gehad toe Ian Ritchie, die RFU se voormalige uitvoerende hoof, Jones genooi het om hom in Kaapstad te ontmoet.
Jones is twee weke vantevore as die Stormers se nuwe afrigter aangestel.
White het Jones glo gevra of hy by Ritchie kan hoor of hulle dalk as ’n duo aangestel kan word.
“Hy (Ritchie) het nie daarin belanggestel nie. Hy het dit duidelik gestel dat dit te kompleks en morsig sou wees.
“Die RFU was oortuig dat hy een man en een visie vir die pos nodig het.”
Jones voer in sy boek aan sy gewete is skoon.
“Ek het geweet Jake was baie teleurgesteld, maar ek het die aanbod van Engeland verdien deur my eie vertonings oor baie jare.
“Ek sou beslis nie die kans van ’n leeftyd van die hand wys omdat dit dalk Jake se gevoelens sou spaar nie,” het Jones geskryf.