Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jake wil Damian by Stormers gaps
Damian Willemse duik sierlik oor die doellyn vir ’n Stormers-drie. Foto: Getty

Jake White wil Damian Willemse vir die Bulle kaap.

Rapport verneem die Stormers se veelsydige agterspeler is ’n rooiletter-naam op White se inkopielys ná die gewese Springbok-afrigter se aanstelling as die Bulle se direkteur van rugby.

Nog ’n speler van die Stormers, Rikus Pretorius, is ook in White se visier om met ’n goeie aanbod Pretoria toe te trek, terwyl Gio Aplon al vanjaar in die Bul-trui in die Curriebeker-reeks kan speel.

Met White se aanstelling is ’n begin gemaak om die Bulle weer ’n spogspan te maak en die woord uit Pretoria is dat White vanjaar al die Curriebeker as ’n begin wil wen.

Willemse is nog tot ná volgende jaar se besoek van die Britse en Ierse Leeus by die WP gekontrakteer, wat beteken dat die Bulle ’n klomp geld sal moet neersit as hulle hoop om die Kaapse Springbok veel vroeër al op Loftus Versfeld te laat inval.

Jake White

White het in sy onderhandelinge met Willemse wel ’n belangrike troefkaart in Johann Rupert.

Die sakereus is ’n belangrike vennoot van die Bulle, met Remgro en die sakeman Patrice Mo­t­sepe die vernaamste aandeelhouers van die Bulle.

Rupert is ook welbekend met die 21-jarige Willemse.

Sy dogter, Caroline Rupert, se hulp het dit destyds vir Willemse moontlik gemaak om as belowende skolespeler aan Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch skool te gaan.

Rupert het ’n rol gespeel toe Willemse voor verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan ’n korttermynkontrak met Saracens aangegaan het.

White se gretigheid om die Bulle se spelerskorps met invoerings aan te vul, het die WP klaar op hol.

Die WP het al die werkgewersorganisasie Sareo genader om unies te dwing om die oordragvenster vir speleronderhandelinge te respekteer, berig Brenden Nel.

Agente en unies moet tot 1 Mei wag alvorens hulle met spelers mag onderhandel.

Die WP het boonop die afgelope week ’n brief aan agente gestuur om hulle mee te deel dat die unie alle onderhandelinge vir eers staak weens die koronavirus-krisis.

Rapport verneem dat die WP alles moontlik sal doen om Willemse in die Kaap te hou.

White stel ook in die Stormers-senter Rikus Pretorius belang.

White se belangstelling in Willemse kan Manie Libbok se toekoms by die Bulle raak.

Sou Willemse ’n Bul word, word die moontlikheid nie uitgesluit dat Libbok se naam onder die beskikbaar-hofie vir ander spanne beland nie.

Die Bulle het ook Morné Steyn op losskakel, wat glo nie deur Willemse se moontlike skuif geraak sal word nie.

Die 21-jarige Pretorius se kontrak met die WP eindig einde Oktober vanjaar.

Soos in Willemse se geval wil die WP hom ten alle koste behou. Veral omdat Dan du Plessis in dié stadium glo die enigste erkende senter is met wie die WP al ’n kontrak met die oog op 2021 gesluit het.

Onsekerheid bestaan nog oor die Kaapse senter Ruhan Nel se toekoms nadat die WP verlede Vrydag op ’n raadsvergadering besluit het om alle onderhandelinge tot verdere kennisgewing te staak.

Die Bulle het al gesprekke met Nel gehad en daar is oorsese klubs wat hom wil bekom.

White is wel bewus daarvan dat Pretorius oor die sogenaamde X-faktor beskik, wat hy nog nie aan die Kaapse ondersteuners kon wys nie aangesien Jamie Roberts tot onlangs hul eerstekeuse-binnesenter was.

White en Gio Aplon in hul dae saam by Toyota Verblitz.

White se kontak met Aplon verbaas nie, aangesien hy hom tot onlangs by die Japanse klubspan Toyota Verblitz afgerig het.

White maak met die 37-jarige Aplon se koms waarskynlik onder meer voorsiening dat Warrick Gelant vanweë Springbok-verpligtinge min vir die Curriebekerreeks beskikbaar sal wees.

Alfons Meyer, die Bulle se uitvoerende hoof, wou nie oor hul belangstelling in Willemse, Pretorius en Aplon uitwei of dit bevestig nie.

“Dis alles baie goeie vrae, maar daar is nog geen definitiewe antwoorde op jou vrae nie,” het Meyer by navraag aan Rapport gesê.

“Ons mag nie voor 1 Mei met plaaslike spelers en agente praat nie.”

Meer oor:  Rikus Pretorius  |  Gio Aplon  |  Jake White  |  Damian Willemse  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.