Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘James Venter die volgende Jaco Kriel’
Swys de Bruin het al twee jaar terug vir die mense by die Leeus gesê James Venter is die volgende Jaco Kriel. Foto: Gallo Images

Hulle sit met “die volgende Jaco Kriel” op oopkantflank, ’n “jong Malcolm Marx” op haker, ’n takties briljante skakelpaar, ’n vlymskerp wedstrydplan . . . daarom is dit vir Swys de Bruin geen verrassing dat die Haaie boaan die Superrugby-puntelys lê nie.

“Die Haaie het soveel afwisseling in hul spel. Ons praat van die beginsel van kontak-kontinuïteit en hulle het ongelooflik goeie variasie daarin. Hulle weet wanneer om op te tel en te dryf en hulle weet wanneer om die bal in kontak uit te gee en wanneer nie,” sê De Bruin, ’n voormalige Springbok-hulpafrigter.

De Bruin is mateloos beïndruk met die spel van die Haaie se losskakel, Curwin Bosch, maar besef sy grofgeskut maak dit vir die generaal moontlik om suksesvolle aanvalle uit te voer.

“Dit kom van die gehalte van die bal wat die voorspelers vir hulle gee. Die Tenk (Thomas du Toit) en Ox (Nche) en hul slotte Ruben van Heerden en daai maer lat, Hyron Andrews, in die lynstane . . . Hulle het ook die ideale kombinasie onder hul losvoorspelers, so hulle kry die bal wat hulle wil hê.”

Toe hy nog die hoofafrigter by die Leeus was, het De Bruin reeds die Haaie se stutte hoog aangeslaan.

“Ek het ongelooflik na Ox gevry toe hy nog by die Cheetahs was, en die Tenk, as ek hom kon kry . . . Hul voorrye is baie goed.

Die Haaie se haker Kerron van Vuuren word baie onderskat, sê Swys de Bruin. Hy herinner hom aan ’n jong Malcolm Marx. Foto: Gallo Images

“Kerron van Vuuren (haker) is vir my soos ’n jong Malcolm (Marx). Hy word baie onderskat, hy is ’n ekstra losvoorspeler.

“Dan praat ek nie eens oor James Venter nie, wat ’n briljante flank is. Ek het dit ’n jaar of twee terug al vir die ouens hier (by die Leeus) gesê, hy is vir my die volgende Jaco Kriel. Hy is ’n groot aanwins vir hulle.”

Venter was verlede jaar nog by die Leeus gekontrakteer, voordat die Haaie hom daar weggerokkel het.

“Hulle het boonop in Tyler Paul (steelkantflank) wat ons in Warwick Tecklenburg gehad het, hy doen al die donkiewerk,” sê De Bruin.

“Omdat hulle soveel afwisseling in hul spel het, bring dit vir Sikhumbuzo Notshe (agtsteman) heeltemal in die spel in. Hy kry al sy lopies in die wye kanale, so hulle verstaan daardie faset van die spel.”

Die grondslag is rotsvas. Daarom kan Bosch en sy skakelmaat, Louis Schreuder, baljaar met hul skitterende taktiese skopwerk, goeie besluitneming en vermoë om die agterlyn weg te stuur.

As daar nie aanvalskans is nie, vat André Esterhuizen (binnesenter) die bal op en gee vir hulle weer vinnige besit.
Swys de Bruin

“As jy dan sit met ’n skakelpaar soos Louis (Schreuder) en Curwin Bosch, dan kan jy lekker speel. As daar nie aanvalskans is nie, vat André Esterhuizen (binnesenter) die bal op en gee vir hulle weer vinnige besit.

“Lukhanyo Am (buitesenter) sit en wag vir die onderskep met die ongelooflike wyse waarop hy die aanval lees. Jacques Nienaber (nuwe Bok-afrigter) praat van ’n read wat jy met die opskietverdediging maak en Am doen dit beter as enigiemand.”

Swys de Bruin Foto: Gallo Images

Die Haaie het boonop ’n dinamiese agterste driehoek van Aphelele Fassi, Makazole Mapimpi en Sbu Nkosi of Madosh Tambwe, wat soos leeus toeslaan elke keer wat hulle bloed ruik.

“Ek geniet dit so om vir die Haaie te kyk. Ek dink nie ’n ou moet die rol onderskat wat hul voorspelerafrigter, Brent Janse van Rensburg, speel nie. Hy doen goeie werk.

“Hierdie koronavirus kan die mat onder hulle uittrek, want die ander spanne kan hulle nou lekker bestudeer. Ek hoop nie dit gebeur nie. Hulle het al die momentum gehad waarvoor jy kon vra.”

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Durban  |  Talent  |  Superrugby  |  Afrigter  |  Rugby  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.