Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jamie in sewende hemel by Nuweland

Dinsdagaand verloof en Woensdag ’n Stormer.

En Donderdag, ná ’n oefensessie op Nuweland, het dit met die Walliese rugbylegende en nuwe Stormers-aanwins, Jamie Roberts, nóg beter gegaan.

Jamie Roberts, die Walliese rugbyreus, kry Donderdag sy nr.12-trui trui by die Stormers se kaptein, Siya Kolisi. Foto: Gallo Images

“Die oomblik wat ek hier ingestap het, kon ek rugby ruik. Ek is tradisioneel en mal oor daardie ouskool-gevoel eerder as die moderne stadions. Dis ’n eer om hier te kan wees,” het Roberts Donderdag aan Netwerk24 gesê.

Hy het ook eksklusief aan Netwerk24 bevestig dat hy Dinsdagaand voor sy koms op Albert Bridge in Londen verloof geraak het.

“Dit was ons laaste aand in Londen en sy (Roberts se verloofde, Nicole) sou haar familie eers weer vyf maande later sien,” het Roberts gesê.

“My visum het om 15:30 deurgekom en ons sou die aand om 19:30 vlieg. Ek het tussendeur ’n uur gevind en kon ’n glasie sjampanje saam met haar ouers geniet. My lewe het in die laaste 48 uur geweldig verander. Dis ongelooflik.”

Die 33-jarige Roberts, wat 94 toetse vir Wallis en drie vir die Britse en Ierse Leeus op sy kerfstok het, is nie in die Moederstad vir ’n vakansie nie.

“Ek wil die Superreeks wen. Ek wil speel en ’n goeie bydrae lewer. Ek het sterkpunte om aan die Stormers te bied, maar Superrugby word teen ’n vinniger tempo gespeel as wat ek gewoond is en die bal is langer in spel,” sê hy.

Roberts is ’n reuse-binnesenter en die Stormers se afrigter, John Dobson, sal van hom verwag om die voordeellyn met mening aan te val.

Roberts was dwarsdeur sy loopbaan onder die voorste spelers ter wêreld in daardie rol.

My eerste twee dae hier was reeds spesiaal.
Jamie Roberts

“Ek weet ook dat ek my spel sal móét aanpas om hier suksesvol te wees. Ek gaan nuwe sterkpunte moet ontwikkel. Daar is skielik meer druk op my,” sê hy.

Roberts, wat gekwalifiseer is as ’n dokter, kon aansienlik meer geld verdien het as hy in die Noordelike Halfrond gebly het, maar sê die lewe gaan oor meer as net ’n bankbalans.

“Dit hang af wat jou definisie van lonend is. Vir my gaan dit oor die lewe en rugby-ervaringe, nie oor geld nie. Ek het al 10 keer na Suid-Afrika toe getoer en dit was altyd my beste ervaring,” sê hy.

“My eerste twee dae hier was reeds spesiaal. Ek het nog nooit vantevore só ’n verwelkoming gekry as die een wat die span my hier gegee het nie.”

Roberts sê sy belangstelling was onmiddellik geprikkel toe sy agent die Stormers as ’n moontlike bestemming genoem het.

“Ek is geweldig dankbaar aan Bath dat hulle bereid was om my uit my kontrak vry te stel. Hulle het gesien dat hierdie ’n geleentheid was wat nie wéér my kant toe sou kom nie.”

Meer oor:  Stormers  |  Jamie Roberts  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.