Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jannie skrik nie vir beurtkrag, nat steenkool
Jannie du Plessis praat Donderdag by die Johannesburg-stadion met die media waar die Leeus se Superrugby-groep geoefen het.Foto: Gallo Images

Het die Leeus-rugby nou ’n ouetehuis begin deur vir Jannie du Plessis aan te skaf?

Dit is een van die menings van ondersteuners wat rondgeslinger word nadat dié 37-jarige oud-Springbokstut aangekondig is as een van die Leeus se aanwinste vir die 2020-seisoen.

“Weet jy wat, ek sal eintlik dwaas wees as ek nie met daardie siening saamstem nie,” het die einste Du Plessis Donderdag by die Leeus se oefening in die Johannesburg-stadion geglimlag.

“In rugbyterme is ek oud. Ek kan nie daarteen wil stry nie. Ja, daar gaan druk op my wees om die mense verkeerd te bewys dat ek nie eintlik al in die ouetehuis moes wees nie,” sê hy.

In rugbyterme is ek oud. Ek kan nie daarteen wil stry nie. Ja, daar gaan druk op my wees om die mense verkeerd te bewys dat ek nie eintlik al in die ouetehuis moes wees nie.
Jannie du Plessis

“Dit is egter só ’n uitdaging wat die vuur binne in my gaan aansteek. Ek glo as jy jou begin bekommer oor wat die mense van jou sê, het jy moeilikheid. Ek weet nog waartoe ek in staat is en dit is wat saakmaak.

“Ek voel nou soos dat ek nie net die sirkel gaan voltooi nie, maar al heeltemal verby hom is. Dit is soos om Monopoly te speel en dan kom jy by die einde, maar gaan weer verby die begin. Dit is hoe dinge vir my voel,” sê hy.

“Ek moet erken, dit voel vir my soos ’n wonderwerk dat ek nou weer die kans by die Leeus gekry het om weer hier in Suid-Afrika te kan speel.

“Dit gaan uitdagend wees, maar dit gaan lekker wees. Ek is die Leeus baie dankbaar dat hulle my nou weer die kans gee om in my eie land te kan speel.

“Net om weer in die son te kan oefen en speel is wonderlik.

“Ja, ek weet daar is dinge soos beurtkrag en nat steenkool, maar ek voel dit is my nat steenkool en my land waar dit gebeur. Daarom pla dit my ook glad nie as al die robotte hier van die oefenveld tot by my huis nie werk nie.

Jannie du Plessis (links) deel ’n spesiale oomblik met sy broer, Biscmarck, by die Franse klub Montpellier. Hulle paaie het vir die eerste keer in baie jare geskei. Foto: Getty Images

“Ek is weer terug hier in my land en kan my taal praat. Europa is wonderlik, maar Suid-Afrika is my land en dit is waar my hart is,” sê Du Plessis, wat die laaste paar jaar sy rugby by Montpellier in Frankryk gespeel het.

Hy erken dit was vir hom hartseer om sy jonger broer, Bismarck, by Montpellier agter te laat.

“Ek het bitterlik erg gehuil toe ek hom gegroet en teruggekom het hierheen.

“Die Hemelse Vader was nog altyd goed vir ons twee dat ons oral kon saamspeel en ons is baie na aan mekaar. Ek het hom (Bismarck) laat weet hoe fantasties dit is om hier in sonskyn te oefen, terwyl dit lekker warm is. Dalk raak hy selfs so bietjie jaloers,” sê Jannie.

Het dit nie vir hom snaaks gevoel om ’n Leeus-oefentrui oor die kop te trek nie?

“Weet jy, my pa het ’n paar rooi Transvaal-rugbykouse jare gelede by (oom) Gerald Bosch gekry. Wanneer daar ’n spesiale geleentheid was, het my pa altyd daardie rooi kouse aangetrek.

Toe ek nou die dag by my eerste Leeus-oefening ook sulke rooi kouse aantrek, het ek aan my pa gedink en ook hierdie geleentheid as baie spesiaal ervaar.
Jannie du Plessis

“Toe ek nou die dag by my eerste Leeus-oefening ook sulke rooi kouse aantrek, het ek aan my pa gedink en ook hierdie geleentheid as baie spesiaal ervaar,” sê hy.

Du Plessis het sy provinsiale debuut in 2003 by die Vrystaat-Cheetahs gemaak en het toe van 2008 tot 2015 vir die Haaie gespeel, voordat hy hom by Montpellier aangesluit het.

Meer oor:  Jannie Du Plessis  |  Bismarck Du Plessis  |  Johannesburg  |  Rugby  |  Ouetehuis  |  Leeus  |  Montpellier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.