Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jantjies glo gepos oor stryery

Die Leeus het met die drastiese besluit om Elton Jantjies weens dissiplinêre redes uit die span te gooi, die boodskap uitgestuur dat geen speler groter as die span is nie.

“Dit was ’n groot besluit,” het die afrigter, Swys de Bruin, toegegee, maar bygevoeg dat niemand belangriker as die span en die protokol is waaraan gehoor gegee moet word nie.

Elton Jantjies lyk nie baie ingenome tydens die Leeus se Superrugby-stryd teen die Haaie verlede naweek in Durban nie. Foto: Gallo Images

Daar is ’n kleed van geheimhouding gegooi oor die presiese redes hoekom Jantjies uit die span gegooi is, maar dit blyk dat dit oor ’n onderonsie tussen hom en van die spanlede was.

“Dit is ’n private aangeleentheid wat intern hanteer en afgehandel is,” het De Bruin en die uitvoerende hoof, Rudolf Straeuli, gesê.

“Ons is nie van plan om daarop uit te brei nie,” het Straeuli gesê.

Vroeër in die week was die nuus uit die Leeus se kamp dat Jantjies olik was en dalk nie sou kon speel nie.

Jantjies het wel die afgelope naweek in Durban die spanprotokol oortree, hoewel daar nie uit die Leeukamp bevestig is of dit op of van die veld af gebeur het nie.

Van die bespiegelings is dat hy in ’n onderonsie op die veld met van sy spanmaats betrokke was en glo ook teen die besluit van die kaptein, Kwagga Smith, gegaan het wat glo in ’n stadium wou hê hy moes pale toe mik, maar dat Jantjies besluit het om hoek toe te skop.

Die lewe gaan aan en niemand is belangriker as die stelsel waarbinne ons funksioneer nie, veral nie in ons gesin hier by die Leeus nie.

Verder word ook gesê dat daar ’n woordewisseling tussen Jantjies en van sy spanmaats kon wees ná sy twee aangeë wat die Haaie onderskep en tot twee drieë gelei het.

Dit is glo ook nie die eerste keer dat daar só ’n konfrontasie binne die span was nie.

“Die lewe gaan aan en niemand is belangriker as die stelsel waarbinne ons funksioneer nie, veral nie in ons gesin hier by die Leeus nie” sê De Bruin.

Shaun Reynolds dra Saterdag op Ellispark die Leeus se nr. 10-trui teen die Stormers. Foto: Gallo Images

Shaun Reynolds, wat nou die losskakel in Saterdag se Superstryd teen die Stormers op Ellispark is, is volgens De Bruin al die laaste paar jaar deel van die opset en het Jantjies ook as mentor gehad wat sy losskakel-spel betref.

Smith, wat die kaptein was verlede week teen die Haaie, sê van die weglating van hul mees ervare speler, dat dit iets is wat gebeur het en aanvaar moet word.

“Ek is bly vir Shaun wat nou weer sy kans kry,” het hy gesê.

Neil de Bruin, die Leeus se agterlyn-afrigter, sê die plan gaan nie té veel hoef te verander met Jantjies nie daar nie.

“Ek glo hierdie kan Shaun se deurbraak-wedstryd wees,” reken hy.

Swys de Bruin wou nie bevestig of Jantjies slegs Saterdag se wedstryd sal misloop nie en sê dit is ’n besluit wat eers Maandag deur Straeuli geneem sal word.

In nog skuiwe is daar ’n splinternuwe skakelpaar, deurdat Ross Cronjé vir Nic Groom as skrumskakel vervang. Cronjé het die Haaie-stryd misgeloop deurdat hy ’n klein operasie moes ondergaan.

Carlu Sadie, eertydse stut van die Westelike Provinsie, speel teen sy ou spanmaats, terwyl Vincent Tshitsuka vir Marnus Schoeman op flank vervang. Cyle Brink skuif van steelkant- na oopkant-flank.

Die haker Malcolm Marx is terug van sy ruskans as en neem ook weer die kapteinskap oor.

Met Jantjies nie daar nie, is daar geen erkende plaasvervanger-losskakel op die bank nie, maar volgens Neil de Bruin kan Cronjé soontoe uitgeskuif word sou dit nodig wees.

Die Goue Leeus Rugbyunie het intussen ook aangekondig dat die heelagter Andries Coetzee en die slot Reinhard Nothnagel hul kontrakte tot die einde van 2021 verleng het.

* Swys de Bruin het bevestig dat die agtsteman en gereelde kaptein, Warren Whiteley, nie weer vanjaar in die Superreeks vir die Leeus sal speel nie. Hy het las van ’n kniebesering en het die afgelope week ook nierstene gehad.

Leeus:
Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Aphiwe Dyantyi, Shaun Reynolds, Ross Cronjé, Kwagga Smith, Vincent Tshitsuka, Cyle Brink, Marvin Orie, Stephan Lewies, Carlu Sadie, Malcolm Marx (k), Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Sti Sithole, Johannes Jonker, Reinhard Nothnagel, Marnus Schoeman, Hacjivah Dayimani, Nic Groom, Tyrone Green.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Leeus  |  Elton Jantjies  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.