Is Elton Jantjies se dae by die Leeus getel?
Daar hang ’n wolk van onsekerheid oor sy voortgesette loopbaan by dié rugbyspan, nadat daar glo onenigheid tussen hom en van sy spanmaats was ná verlede naweek se Superwedstryd teen die Haaie in Durban.

Elton Jantjies verlede naweek vir die Leeus teen die Haaie in aksie. Hy is om dissiplinêre redes uit die span gelaat vir Saterdag se stryd teen die Stormers. Foto: Gallo Images
Jantjies is vir Saterdag se kragmeting met die Stormers op Ellispark weens dissiplinêre redes uit die span gelaat.
Hy vergader Maandag weer met die uitvoerende hoof, Rudolf Straeuli, waar sy situasie en toekoms glo verder bespreek sal word.
Jantjies, wat sy debuut in 2010 by die Leeus gemaak het, is verreweg hul mees ervare speler en het sedert hy in 2011 die eerste keer Superrugby gespeel het, reeds 112 wedstryde in daardie reeks vir die Leeus gespeel. Hy het in 44 Curriebeker-kragmetings gespeel en het ook in 2013 13 keer vir die Stormers uitgedraf.
In die Springbok-trui is hy in 32 toetse gesien.
Jantjies se kontrak by die Leeus eindig aan die einde van hierdie jaar en die vraag word nou gevra of hy nie dalk gaan besluit om eerder ander weivelde te soek nie.
By vorige geleenthede was daar reeds sprake dat Jantjies, wat ook al tydens Curriebeker-seisoene in Japan gespeel het, deur klubs in Europa genader is om sy rugbyloopbaan daar voort te sit. Hy het toe gesê Ellispark is waar sy hart is en hy is passievol daaroor om sy rugby in die Goudstad te speel.
Straeuli wou Vrydag niks oor die situasie sê of selfs eers bevestig of daar wel met Jantjies onderhandel word rakende ’n kontrak-verlenging nie.
Wat gebeur het, op die veld of dalk selfs daarna in die kleedkamer, het glo ’n slegte nasmaak tussen dié 28-jarige losskakel, ’n boorling van Graaff-Reinet, wat aan die Hoërskool Florida aan die Wes-Rand sy skoolloopbaan klaargemaak het, en sy Leeus-spanmaats gelaat.
Uit Leeus-geledere word gesê dit het glo nie in ’n bakleiery ontaard nie, maar dat harde, en onsmaaklike woorde geval het, blyk ’n feit te wees.
Na verneem word, het Jantjies wel reeds jammer gesê vir wat gebeur het. Dit is glo ook ’n situasie waar die protokol van die Leeus as werkgewer nagevolg moet word en dit nie ’n geval is dat wat ook al gebeur het net afgelag kan word en van vergeet word nie. Daar is sekere reëls en bepalings waaraan voldoen moet word in al die betrokke partye se beste belang.
Superrugby-bepalings
Superrugby-puntelyste
Superrugby-uitslae