Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jantjies voor in die tou om Leeus te lei

Elton Jantjies kan aanstaande jaar die leier van die Leeus-trop in die Super-rugbyreeks wees.

Dié Springbok-losskakel en lid van vanjaar se seëvierende Wêreldbeker-groep, het boonop reeds “toestemming” van “die baas” gekry om wel voor te draf indien die Leeus dit van hom verlang.

Elton Jantjies Donderdagaand by die Superrugby-bekendstelling in Randburg. Hy is die gunsteling om die Leeus se nuwe kaptein te word. Foto: Gallo Images

“Ek het dit met my vrou bespreek en haar antwoord was ‘beslis, doen dit as jy kan’.”

In hierdie stadium blyk dit dat Jantjies voor in die tou staan om die Leeus se kaptein vir die nuwe seisoen te wees.

Die gereelde kaptein, Warren Whiteley, sal weens ’n kniebesering nie aan volgende jaar se Superreeks deelneem nie, terwyl die twee spelers wat verlede jaar die trop gelei het wanneer hy beseer was, Malcolm Marx en Kwagga Smith, albei ook aanstaande jaar verlore is vir die Leeus.

Dus is die soektog aan die gang vir die nuwe kaptein.

Ivan van Rooyen, die nuwe afrigter, sê hy het ’n paar kandidate op die kortlys, maar wou nie enige name noem nie.

As die Leeus se mees ervare speler is Jantjies ’n gunsteling, terwyl die slot Marvin Orie en die skrumskakel Ross Cronjé, wat in vanjaar se Curriebeker-reeks die kaptein was, die ander sterk kandidate is.

Jantjies het egter Donderdagaand by die bekendstelling van die Superreeks in Randburg gesê by die Leeus is daar verskeie spelers wat kapteins in hul onderskeie posisies is.

Hy was die kaptein van die Hoërskool Florida se eerste span en sê hy het ook baie van kapteinskap geleer by Whiteley en sy groot vriend, die Springbok-kaptein, Siya Kolisi.

Ons wat die Wêreldbeker verower het, moet nie nou selfsugtig wil wees en daardie ervaring net vir onsself wil hou nie.
Elton jantjies

Ironies genoeg was hy egter vroeër vanjaar in die Superreeks in die moeilikheid en is hy dissiplinêr gestraf deur die Leeus omdat hy die kaptein se bevele verontagsaam het.

Dit was in Durban teen die Haaie, toe Kwagga Smith hom beveel het om pale toe te skop en hy besluit het om die bal eerder hoekvlag toe te skop. Daar was ook sprake dat Jantjies toe tot laataand gekuier het.

Hy en Van Rooyen het egter ’n goeie verstandhouding en “ek kry sommer hoendervel as ek net oor hom praat,” sê Jantjies van die nuwe afrigter. “Hy weet hoe om sy spelers te hanteer.”

Wat die Wêreldbeker-ervaring betref, grap hy dat die goue medalje swaar om sy nek voel.

Op ’n ernstiger noot glo Jantjies die Superspanne moet baie kan baat by wat die Bokke vermag het.

“Ons wat die Wêreldbeker verower het, moet nie nou selfsugtig wil wees en daardie ervaring net vir onsself wil hou nie. Ons moet teruggaan na ons onderskeie spanne en dit met al die ander spelers deel.

“Die Wêreldbeker sal my nie as individu verander nie. Ek sien uit na ’n jaar vol pret by die Leeus en om my kennis te deel. Ek wil graag die spelers om my laat goed lyk.

“Ek gaan daardie knoppie druk om die nuwe jaar van nuuts af te begin. Ek wil groei as speler en leier en nee, ek glo nie dit gaan ’n uitdagende seisoen vir die Leeus wees nie. Dit is wel ’n jong span, maar hulle het saam gespeel in die Curriebeker-reeks en daar is baie potensiaal,” sê Jantjies.

Meer oor:  Elton Jantjies  |  Ivan Van Rooyen  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.