Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
JC: Stormers-agttal sal dié keer beter
Die Stormers-stut Oli Kebble op die aanval in die onlangse kragmeting met die Waratahs op Nuweland. Foto: gallo images

Voordat dié seisoen se Superrugby-reeks begin het, sou ’n mens jou kwalik kon indink dat die Stormers ongemaklike vrae oor hul skrumwerk sal moet beantwoord.

Nietemin, wat het in daardie laaste skrum onlangs teen die Waratahs gebeur toe die Stormers vlak voor hul doellyn in trurat gedwing is en gevolglik die wedstryd met 32-30 verloor het?

“Ek kan nie my vinger daarop plaas nie, maar dis vergete. Die wedstryd teen die Waratahs het darem al voor verlede week plaasgevind en nou berei ons voor vir Saterdag se wedstryd teen die Sunwolves,” het die loskopstut JC Janse van Rensburg Dinsdag geantwoord.

“Ons agttal het verantwoordelikheid daarvoor geneem en hard daaraan gewerk dat so iets nie weer sal gebeur nie. Ons sal sake regstel.”

Die Stormers sou seker beter daaraan toe gewees het deur van ’n antwoord af weg te skram.

’n Mens kan die skrumskakel Louis Schreuder dalk roskam omdat hy weg van die skrum af gestaan het eerder as om die bal op te pik en die druk te verlig.

Dan moes die agttal nie onverhoeds betrap gewees het nie nadat die bal reeds na Schreuder gekanaliseer is.

Maar wat sal dit nou help om vingers te wys?

“Jou ingesteldheid moet reg wees, want dis ’n gegewe dat die ander span vir jou sal kom. Jy móét alles gee,” het Janse van Rensburg gesê.

’n Wedstryd teen die Sunwolves, wat verlede naweek in Tokio met 22-40 teen die Western Force verloor het, is ’n goeie geleentheid vir die Stormers, en hul agttal, om weer die perd op te saal.

’n Mens wil nie die Japanners onderskat nie, maar dalk kan die Stormers se breier, Robbie Fleck, hierdie wedstryd as ’n geleentheid gebruik om die Springbok-vaskopstut Frans Malherbe ’n blaaskans te gun.

Malherbe het Dinsdag saam met die span na Singapoer vertrek, maar daar is in Alistair Vermaak ’n vyfde stut in die toergroep.

Vermaak is ’n loskopstut, maar Fleck het steeds die keuse om een van sy spesialis-vaskoppe – Malherbe of Vincent Koch – te laat rus omdat Oli Kebble, indien nodig, die skrum kan anker.

Tot dusver is Kebble en Janse van Rensburg as loskoppe aangewend.

Oor die Sunwolves se skrumwerk wil Janse van Rensburg nie veel sê nie.

“Op hul ingooi kom die bal blitsig uit, maar dis belangrik dat ons hierdie naweek op ons skrum fokus. Rugby is ’n snaakse ding. Jy kan nie bekostig om oorgerus te raak nie.”

Superrugby-puntelyste

Superrugby-bepalings

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Jc Janse Van Rensburg  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.