Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
JC pak ou Leeu-spanmaats
De Allende speel nié op Ellispark
Die haker Bongi Mbonambi gister tydens ’n oefensessie van die Stormers in Kaapstad. Foto: GALLO IMAGES

Kaapstad. – In 2013 was hulle kamerade, maar môreaand is JC Janse van Rensburg en Julian Redelinghuys in ’n tweestryd ­gewikkel wat die gang van die Superrugby-wedstryd tussen die Leeus en Stormers op Ellispark in Johannesburg kan bepaal.

Janse van Rensburg, wat van 2006 tot 2013 gehelp het om ’n sterk skrumkultuur by die Leeus te vestig, sak vandeesweek as die Stormers se loskopstut.

In nóg ’n verandering in die voorry, vervang Bongi Mbomambi die beseerde Scarra Ntubeni op haker. Ntubeni het las van ’n ligte dyspierbesering.

Tot nou was dit altyd Koch en Kebble, of Malherbe en Janse van Rensburg, saam as stutte in die beginspan.

“Ons stutte het verskillende persoonlikhede aan hul spel. Aan die een kant het jy vir Vince en Oli, en aan die ander vir Frans en JC, wat ouens met ’n harde ingesteldheid is. Ons wil sien hoe dit gaan as ons dinge ’n bietjie meng,” het die ­Stormers se afrigter, Robbie Fleck, gister gesê.

Ofskoon goeie skrumwerk ’n produk is van ’n agttal wat goed as eenheid werk, is die tweestryde tussen stutte dikwels deurslaggewend.

Redelinghuys anker die Leeus se skrum puik en gaan waarskynlik nog veel meer toetse speel as die twee op 2014 se Springbok-toer Europa toe.

Die Stormers het ’n goeie ­reputasie wat skrumwerk betref, maar was soms vanjaar in trurat en sal diep moet delf om ­môre in dié faset bo uit te kom.

Fleck het ook ander subtiele skuiwe gemaak.

Nizaam Carr keer terug as oopkantflank, waar hy in die Stormers se onlangse se sege oor die Brumbies verlede maand geskitter het. Sikhumbuzo Not­she sal as nr.7-flank begin met Siya Kolisi wat gevolglik plaasvervangersbank toe skuif.

Fleck het ook onthul dat die Springbok-senter Damian de Allende nog nie fiks genoeg is om teen die Leeus te begin nie. De Allende het vroeër vandeesweek self erken hy moet nog gewig ­afskud ná sy terugkeer van ’n enkelbesering.

Die Stormers se middelveld sal veel sterker wees met De ­Allende in, maar Fleck is in sy skik met die kombinasie van ­Juan de Jongh en Johnny Kotze.

“Ons veldtog draai nie om Damian nie. Dis ons hele groep wat die deurslag sal gee en dit gaan taamlik goed sonder hom,” het Fleck gesê.

“Hy kan vir ons ietsie buite die gewone gee, maar my verantwoordelikheid is om te sorg dat hy sy fiksheid ten volle ­herwin. Ek wil hê Damian moet wedstryde begin wanneer hy weer op sy beste is. Hy gaan wel dié week ’n rol hê.”

Nic Groom keer terug op skrumskakel in Louis Schreuder se plek, Met Ntubeni uit, is daar ’n geleentheid vir die opwindende voormalige SA o.20-haker Mike Willemse op die plaasvervangersbank.

Die Stormers sal nie môre ’n spesialis-losskakel op hul plaasvervangersbank hê nie.

“Brandon Thomson het Maandag en Dinsdag saam met ons geoefen, maar ons sal hom ’n bietjie meer tyd gee om met ons stelsels vertroud te raak,” het Fleck gesê.

Stormers

Cheslin Kolbe, Kobus van Wyk, Johnny Kotze, Juan de Jongh (m/k), Leolin Zas, Jean-Luc du Plessis, Nic Groom, Schalk Burger, Sikhumbuzo Notshe, Nizaam Carr, Pieter-Steph du Toit, JD Schickerling, Vincent Koch, Bongi Mbonambi, JC Janse van Rensburg.

PLAASVERVANGERS: Mike Willemse, Oli Kebble, Frans Malherbe (m/k), Rynhardt Elstadt, Siya Kolisi, Louis Schreuder, Damian de Allende, Huw Jones.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.