Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
JD uit, maar Eben slaap rustig

Die Stormers verwag dat JD Schickerling vir ’n geruime tyd buite aksie sal wees met ’n handbesering, maar oor Cobus Wiese as ’n potensiële slotmaat vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Crusaders op Nuweland, kla die Springbok-hemelbesem Eben Etzebeth allermins.

Eben Etzebeth sê ’n stryd teen die Crusaders is die moeilikste uitdaging in Superrugby. Foto: Gallo Images

Wiese het in die Stormers se laaste wedstryd – hul nederlaag met 25-30 teen die Jaguares in Buenos Aires – as nr.7-flank uitgeblink. Hy het 19 duikslae uitgevoer, vier lynstaanballe gewen waarvan een op die tuisspan se ingooi was, en twee verdedigers geklop. Danksy daardie statistieke het hy Sanzaar se Span van die Week vir ronde 12 se ligawedstryde gehaal.

Die moontlikheid bestaan dat hy vandeesweek terug slot toe geskuif sal word, waar hy die vorige naweek teen die Bulle uitgeblink het en óók Sanzaar se Span van die Week gehaal het.

Toe het hy – in net 50 minute op die veld voordat hy deur Etzebeth vervang is – vyf verdedigers geklop, drie keer die bal in kontak aangegee, 12 duikslae uitgevoer en een keer omkeerbesit afgedwing.

Die tyd sal leer of die Stormers dalk die volgende Danie Rossouw in hul geledere het. Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, slaan vir Wiese glo hoog aan.

“Ek het Cobus reeds verlede jaar begin raaksien en dink hy’s ’n geweldige talentvolle speler. Hy’s rateltaai en boonop ’n goeie ou van die veld af. Ek dink hy gaan dit ver bring,” het Etzebeth Maandag ná die Stormers se oefensessie in Bellville gesê.

Ongeag of hy as ’n slot of flank speel, sal die Stormers-bielie Cobus Wiese ’n handvol vir die Crusaders wees in Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland. Foto: Gallo Images

Etzebeth en Schickerling was die Stormers se slotpaar teen die Jaguares, maar die omstandighede kan vir Robbie Fleck, hul afrigter, noop om vir Wiese weer daar te kies.

Elke Stormer gaan ’n reus in sy posisie móét wees om ’n Crusaders-span, wat die Bulle Vrydagaand met 45-13 op Loftus verneder het, te kan stuit.

Die Stormers put wel moed uit hul laaste wedstryd teen die Crusaders in Christchurch. Hulle was met rustyd met 7-31 agter, maar het die tweede helfte met 21-14 “gewen” deur meer direk te speel. Die eindtelling was 45-28 vir die Crusaders, wat laas in 2010 teen die Stormers verloor het.

“Jy moet vorige wedstryde bestudeer om te sien waar jy fouteer het en ons het in die tweede helfte van daardie wedstryd baie beter rugby gespeel,” sê Etzebeth.

“ ’n Wedstryd teen die Crusaders is beslis die moeilikste uitdaging in Superrugby. Dis soos om vir die Springbokke teen die All Blacks te speel.”

Om die uitdaging taaier te maak, keer die All Black-slot Sam Whitelock vandeesweek vir die Crusaders terug nadat hy die afgelope twee weke met ouerskapverlof was.

Etzebeth meen dié wedstryd bied vir die Stormers ’n geleentheid om hul selfvertroue aansienlik te lig.

Ná hy en sy Stormers-spanmaats teen die skrummasjien geofen het in Bellville, het die slot Eben Etzebeth hom ook in ’n mediaskrum bevind. Foto: Gallo Images

“Die Crusaders loop ver voor in die reeks. As jy die voorste span kan klop, behoort jy ook met al die ander te kan afreken. Dit sal beslis baie positief wees,” sê hy.

Met die Crusaders se sterk steun onder Kapenaars, het Etzebeth vrede.

“Ons gee om vir ons ondersteuners en steur ons nie veel aan die ander nie.”

* Die Stormers-vleuel Sergeal Petersen het glo ’n ernstige enkelbesering, wat hom lank op die kantlyn sal hou.

Meer oor:  Eben Etzebeth  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.