Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jean-Luc terug op nr. 10 ... en sal daar bly

Jean-Luc du Plessis is terug op sy pos as die Stormers se losskakel vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Bulle op Nuweland en gaan vir die afsienbare toekoms daar bly.

Dít was Donderdag die onomwonde boodskap van Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, oor die rangorde vir die nr.10-trui by die Kaapse span. Josh Stander het verlede week ’n geleentheid gekry, omdat Du Plessis lyfseer was en Fleck wil vir Damian Willemse op heelagter behou eerder as om hom losskakel toe te skuif.

Jean-Luc du Plessis se linkerskopstewel maar van hom ’n waardevolle speler in die oë van Robbie Fleck, die Stormers se afrigter. Foto: Gallo Images

“Damian is wat spelpeil betref die voorste heelagter in Suid-Afrika. Waarom hom skuif uit ’n posisie waarin hy oorheers? Hy skop goed, beheer die wedstryd goed agter en is ons beste speler onder die hoë bal. Jy wil nie daarmee mors nie,” sê Fleck.

“Die plan was altyd vir Jean-Luc om vandeesweek terug te keer. Ons hou van hoe hy takties gespeel het. Dit was veral in die eerste helfte van ons wedstryd teen die Rebels sigbaar.

“Die kombinasie van van hom, Herschel Jantjies (skrumskakel) en Damian de Allende (binnesenter) het goed gevaar op toer.”

Fleck het Du Plessis ook vir sy “rugbybrein” lof toegeswaai.

“Josh en Damian het geleenthede gehad op losskakel – of as impakspelers of om strategiese redes – maar ons sal aanhou om vir Jean-Luc te kies. Hy het veral hierdie week ’n groot rol om te speel.”

Du Plessis het vandeesweek die geleentheid om homself teen ongetwyfeld Suid-Afrika se voorste losskakel, Handré Pollard, te meet. Sy vermoë om hom oorkant Pollard te laat geld, kan straks bepalend in die Stormers se uiteindelike lot wees.

Fleck meen dis ook ’n bate dat Du Plessis linksvoetig is.

“Ons hou daarvan hoe hy ’n skakel tussen voor- en agterspelers is en hy gee vir ons ’n linkervoet-opsie, wat ons nie verlede week (teen die Brumbies) gehad het nie. In die moderne spel benodig jy regs- én linksvoetige skoppers. Met SP Marais uit, is Jean-Luc die enigste ou wat links skop. Dít het ’n invloed op die spankeuse,” sê hy.

Die Stormers moes Donderdag kort voor hul spanaankondiging ’n verandering maak nadat Ruhan Nel tydens die oefensessie op Nuweland ’n enkelbesering opgedoen het. Daar is sprake van ligamentskade, wat hom vir ’n geruime tyd langs die kantlyn kan hou. JJ Engelbrecht is gevolglik op buitesenter gekies.

Fleck het verras deur die Springbok-slot Eben Etzebeth met sy terugkeer van ’n besering slegs op die plaasvervangersbank te kies.

“Ons moet Eben se werklading en speeltyd bestuur. In ons gesprek met hom, het ons hom gevra om vir ons dieselfde impak en leierskap te gee as in die wedstryd teen die Leeus vroeër in ons veldtog,” sê Fleck.

Etzebeth het toe as plaasvervanger gehelp om die skaal in die Stormers se guns te swaai.

JD Schickerling keer wel terug op slot in die plek van Salmaan Moerat, wat harsingskudding opgedoen het.

Die Bok-haker Bongi Mbonambi is op die plaasvervangersbank nadat hy vroeër in die week met ’n beenbesering gesukkel het. Hy het Donderdag ’n fiksheidstoets geslaag, maar die nr.2-trui word nietemin aan Scarra Ntubeni toevertrou.

Stormers: Damian Willemse, Sergeal Petersen, JJ Engelbrecht, Damian de Allende, Dillyn Leyds, Jean-Luc du Plessis, Herschel Jantjies, Kobus van Dyk, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Cobus Wiese, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Corné Fourie, Wilco Louw, Eben Etzebeth, Ernst van Rhyn, Justin Phillips, Josh Stander, Seabelo Senatla.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Jean-Luc Du Plessis  |  Robbie Fleck  |  Stormers  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.