SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
SuperRugby
Jesse sê Mitch se aanslag is ‘verfrissend’

Bulle-ondersteuners gaan die seisoen opwindende rugby sien.

Jesse Kriel. Foto: Gallo Images

Die Springbok Jesse Kriel is een van die meer beskeie rugbyspelers in die land, so wanneer hy dié voorspelling waag, kan jy weet dit is alles behalwe grootpraat.

Hy het verwys na die beweging Saterdag op Loftus se B-veld toe hy deur die Jaguares se agterlyn gesny het en sy heelagter, Warrick Gelant, weggestuur het doellyn toe.

Kriel het in die tweede helfte sy eerste rugby in 2018 gespeel.

“Dit was lekker om weer op die veld te wees.

“Warrick se drie was die resultaat van die spelpatroon wat Mitch (John Mitchell) ingebring het.

“Die idee is om hard te werk en jouself op die aanval in sulke posisies te plaas. Ek dink ons sal meer daarvan sien die seisoen.”

Kriel, wat reeds in 29 toetse gespeel het, sê Mitchell se mentorskap is “verfrissend” in die stadium van sy loopbaan.

“Dit is beslis ’n trappie hoër as waaraan ons aan gewoond was. Jy leer elke dag iets nuut en die spelers wíl elke dag hierheen kom en beter raak. Ek dink die spelers geniet dit.”

Hy sê daar is geen ruimte vir lyf wegsteek onder Mitchell nie.

“Dit gee jou selfvertroue. Daar is duidelike maatstawwe en as jy daaraan voldoen weet jy presies wat jou vordering is.

“Daar word vereis dat elke speler verantwoordelikheid neem en ek dink ons almal verkies dit so. Ek geniet dit regtig om elke oggend Loftus toe te kom.”

Kriel sê elke seisoen kom met nuwe uitdagings en geleenthede, maar hy fokus nie op die bewindsoorname wat daar in die Springbok-opset is nie.

“My fokus is nou net op die groter doelwit hier (by die Bulle). Ons voorbereiding is goed.”

Daar heers steeds ’n debat oor wat Kriel se beste plek in die agterlyn is.

Hy het nadat hy aanvanklik op die radar verskyn het, gelyk na die antwoord op heelagter, maar hy het verlede seisoen in net een van die Springbokke se 13 toetse nié die nr. 13-trui gedra nie.

“Ek geniet dit om buitesenter te speel, maar Mitch vereis dat elke speler in die agterlyn veelsydig moet wees.

“Jy moet in elke posisie waar jy jou op die veld bevind, gemaklik kan wees. Ek het nog altyd gesê ek sal speel waar ek benodig word.”

* Mitchell het Maandag goeie nuus oor die skrumskakel Ivan van Zyl se terugkeer gekry.

Die Bulle se mediese span het Van Zyl, wat van ’n skoueroperasie herstel het, die groen lig gegee om die naweek in die proefwedstryd op Loftus te speel.

Die prognose was dat Van Zyl die begin van die Superreeks sou misloop, maar hy het baie goed gereageer op sy rehabilitasie-behandeling.

Twee spanne van die Bulle pak mekaar Saterdagaand.

Die slot Jason Jenkins het ’n harde hou op die skouer gekry teen die Jaguares en sal waarskynlik nie oorweeg word nie.

Meer oor:  Jesse Kriel  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.