Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jong Boeta kry kans op 10 teen Hurricanes

Die Haaie sal die Hurricanes Saterdag sonder hul generaal, Curwin Bosch, pak nadat hy teruggekeer het na Suid-Afrika ná sy ouma se dood.

Boeta Chamberlain
Boeta Chamberlain maak Saterdag sy Superrugby-buiging. Foto: Gallo Images

Dis ’n gevoelige slag vir die Durbaniete, maar die 20-jarige Boeta Chamberlain kry nou ’n kans om sy talente op losskakel uit te stal op die genadelose verhoog van ’n Superrugby-wedstryd in Wellington.

Bosch is vanjaar die Haaie se voorkeur-losskakel nadat hy die laaste twee jaar stief behandeling by die vorige afrigter, Robert du Preez, gekry het.

Du Preez het sy seun met dieselfde naam klokslag op nr. 10 gekies en vir Bosch min kanse gegee.

Vanjaar wil Bosch vergoed vir verlore tyd. Maar in sy afwesigheid kan Chamberlain bewys hy is ’n speler vir die toekoms nadat hy ook in verlede jaar se Curriebeker-reeks geskitter het.

Die Haaie het ook ’n paar groentjies op die plaasvervangerbank ingesluit.

Dylan Richardson en Phepsi Buthelezi sit albei daar, waar ses voorspelers ingesluit is. Richardson is ’n haker, wat ook flank kan speel en Buthelezi is ’n losvoorspeler.

Sean Everitt, die Haaie se afrigter, is duidelik nie bang om jong spelers ’n kans te gee nie. Selfs in ’n groot, intimiderende wedstryd soos teen die Hurricanes in Wellington.

Die Haaie het ’n paar ervare spelers, veral in die agterlyn, wat die groentjies se senuwees in toom sal hou. Die Springbok-buitesenter, Lukhanyo Am, het tot dusver as kaptein kalmte en volwassenheid uitgestraal.

Ons is regtig ’n gelukkige kamp. Ek geniet dit om saam met die ouens te werk en die gees is puik.
Lukhanyo Am

“Die uitslae maak dit makliker, daar kon dalk ’n paar vrae gewees het as ons nie gewen het nie,” het Am vandeesweek oor sy kapteinskap gesê.

Die Haaie het hul eerste wedstryd teen die Bulle op Kingspark gewen, voordat hulle die Highlanders in Dunedin geskok het.

“Ons is regtig ’n gelukkige kamp. Ek geniet dit om saam met die ouens te werk en die gees is puik.”

’n Oorwinning met 42-20 oor ’n Kiwi-span in Nieu-Seeland is ’n uitsonderlike prestasie. Am wil nou daarop voortbou.

“Dit was ’n massiewe vertoning en ek was tevrede met hoe almal gespeel het. Ons kan nog verbeter, maar dis nog vroeg in die reeks. Hopelik kan ons bestendig wees.”

Bestendigheid is die wagwoord. In die laaste twee of drie jaar, sou die Haaie uitstekende vertonings opvolg met wedstryde wat jou laat wens jy het liewer aangebied om jou buurman se swembad skoon te maak as om na dié twak te kyk.

Maar die Haaie wil nie vanjaar in dieselfde strik trap nie. Hulle het geïdentifiseer waar hulle teen die Highlanders swak was. Hulle wil nie donkies wees wat hul kop herhaaldelik teen dieselfde klip stamp nie.

“Ons het te veel strafskoppe afgestaan. Dit is iets wat ons kan beheer. Dit kom neer op besluitneming en ons het hard daaraan gewerk.

“Dit is iets wat ons moet uitskakel, want as die telling kleiner was, kon dit ons die wedstryd gekos het,” sê Am.

 Haaie: Aphelele Fassi, Madosh Tambwe, Lukhanyo Am (k), André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Boeta Chamerlain, Louis Schreuder, Sikumbuzo Notshe, Tyler Paul, James Venter, Hyron Andrews, Ruben van Heerden, Thomas du Toit, Kerron van Vuuren, Ox Nche. PLAASVERVANGERS: Craig Burden, Juan Schoeman, John-Hubert Meyer, Le Roux Roets, Dylan Richardson, Phepsi Buthelezi, Sanele Nohamba, Jeremy Ward.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae


Meer oor:  Curwin Bosch  |  Boeta Chamberlain  |  Superrugby  |  Hurricanes  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.