Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jong nr. 9 Marco op bank vir Leeus
Die skrumskakel Marco Janse van Vuren was ’n uitblinker in die Goue Leeus se Curriebeker-veldtog verlede jaar. Hy kan die naweek sy Superrugby-buiging maak. Foto: Gallo Images

Een van die mees belowende jong skrumskakels in die land kry Saterdag die kans om teen ’n span vol internasionale sterre te wys wat in hom steek.

Die 21-jarige Marco Janse van Vuren is op die Leeus se plaasvervangersbank gekies vir hul Superrugby-stryd teen die Jaguares op Ellispark.

Janse van Vuren is ’n lang, lenige skrumskakel met goeie vaart, goeie visie en ’n puik aangee.

Swys de Bruin, die Leeus-breier, het verlede week verkies om sonder ’n plaasvervangerskrumskakel te speel.

“Ross (Cronjé) het baie gespeel die laaste tyd, so ons wil hom ’n bietjie ondersteuning gee. Ross is taai en ons het goeie dekking met Andries (Coetzee, heelagter) daar, maar Marco het goed geoefen in die week,” het De Bruin Donderdag by die spanaankondiging in Johannesburg gesê.

Hy is een van ons groentjies. Julle sal sien soos ons voortgaan gaan ons verskeie groentjies inbring van die plaasvervangersbank af.
Swys de Bruin

“Hy is een van ons groentjies. Julle sal sien soos ons voortgaan gaan ons verskeie groentjies inbring van die plaasvervangersbank af. Dit is ’n goeie stelsel om hulle só in te bring,” verduidelik hy.

Die slot Andries Ferreira is ook terug in die beginspan nadat hy die sege van 26-19 oor die Haaie misgeloop het. Marvin Orie, wat in sy plek begin het, sal nie dié naweek in aksie wees nie.

Andries Ferreira (Gallo)

“Andries het verlede week ’n maagaandoening gehad, maar hy is nou weer honderd persent. Ons het met dié span geoefen die week voor die Haaie ook, so ons het daardie bestendigheid.”

Die een kwelpunt van die Leeus se stryd teen die Haaie was hul lynstaanspel. Ferreira se insluiting sal in dié vaste faset ook waardevol wees.

Die Leeus se kaptein en agtsteman, Warren Whiteley, sê die span het dié week baie hard aan hul lynstane gewerk.

“Ons was net ’n bietjie stadig om te reageer (teen die Haaie). Party van ons opsies was nie die regte opsies nie, maar ons het baie hard aan ons reaksietyd gewerk. Dit sal beter wees dié week,” sê hy.

De Bruin was verlede week in sy noppies met sy span se skrumvertoning, maar hy waarsku dat die Jaguares se skrum ’n ander uitdaging gaan bied.

“Die skrum is elke week ’n ander gedierte, want elke span skrum anders. Jy moet daarby kan aanpas. Hulle het ’n paar goeie skrums teen die Stormers gehad, so ons moet op ons hoede wees.”

Tog glo die breier hy weet wat om te verwag van die Argentyne. Hulle het verlede week naelskraaps met 20-28 teen die Stormers verloor.

Die hele ruggraat van hul span is puik. Hulle het nie baie swakpunte nie, so jy sal op jou beste moet wees as jy hulle wil klop.
Swys de Bruin

“Hulle het baie dieselfde tipe rugby gespeel in hul opwarmstryde en in die eerste stryd teen die Stormers, so dit is wat ons verwag. Ons moet wel aanpasbaar wees. Ons dink ons weet wat ons gaan kry.

“Hulle is ’n internasionale span. Hulle dra die bal baie goed, hulle speel ’n interessante aanvallende styl. Hul skakelpaar is puik en hul kaptein en haker, Agustín Creevy, is ook baie goed. Trouens, die hele ruggraat van hul span is puik. Hulle het nie baie swakpunte nie, so jy sal op jou beste moet wees as jy hulle wil klop,” sê De Bruin.

Leeus se span:
Andries Coetzee, Sylvian Mahuza, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Ross Cronjé, Warren Whiteley (k), Cyle Brink, Kwagga Smith, Franco Mostert, Andries Ferreira, Ruan Dreyer, Malcolm Marx, Jacques van Rooyen. PLAASVERVANGERS: Robbie Coetzee, Dylan Smith, Jacobus Adriaanse, Lourens Erasmus, Hacjivah Dayimani, Marco Jansen van Vuren, Howard Mnisi, Rohan Janse van Rensburg.

Superrugby-bepalings.

Superrugby-uitslae.

Superrugby-puntelyste.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Ellispark  |  Johannesburg  |  Superrugby  |  Jaguares  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.