Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Kan Leeus uit Stormers se kloue ontsnap?
’n Bobbejaan in die Krugerwildtuin wat ’n leeuwelpie gesteel het en toe versorg asof dit ’n klein bobbejaantjie is, het die verbeelding aangegryp. Foto: Facebook | Kurt Safari Company

Daardie unieke foto wat verlede week in koerante en op sosiale media verskyn het van die uitgegroeide bobbejaanmannetjie wat in die boom sit met sy arm om ’n weerlose welpie, laat jou nogal dink aan Saterdag se Superrugbywedstryd tussen die Stormers en die Leeus op Ellispark in Johannesburg.

Net so oorheersend soos daardie bobbejaan oor die arme welpie was, net so dominerend blyk die Stormers potensieel oor die Leeus te wees.

Die Kapenaars kom Goudstad toe met ’n onberispelike rekord. Hulle streef na die haas ondenkbare in hierdie reeks om in drie wedstryde agtereenvolgens nie ’n enkele punt af te staan nie.

Is dit haalbaar?

In hul hele Superrugby-geskiedenis het dit nog net een keer gebeur dat die Leeus nie ’n enkele punt in ’n wedstryd kon aanteken nie. Dit was in 1997 teen die Crusaders in Christchurch toe die Leeus met 0-23 verloor het.

Die Leeus se blitsbuks Tyrone Green kan dalk die eerste speler van ’n opponerende span wees wat vanjaar die Stormers se doellyn oorsteek. Foto: Getty Images

Dit het nog nooit op Ellispark gebeur dat die Leeus nie punte in ’n wedstryd kon kry nie. Die minste punte wat hulle nog aangeteken het, was so onlangs soos verlede jaar toe die Haaie hulle met 42-5 gekarnuffel het.

In hul laaste twee wedstryde op Ellispark teen die Stormers het die Leeus saam 93 punte aangeteken en dit is eintlik ironies dat daar nou selfs eens bespiegel word of hulle wel in hierdie wedstryd punte kan aanteken.

Die rugbylandskap by albei hierdie spanne het die afgelope ruk egter aansienlik verander.

Terwyl die Stormers ’n gevestigde eenheid geskep het en oorloop van selfvertroue danksy hul nuwe afrigter, John Dobson, is dit asof die Leeus nog so voel-voel in die stikdonker hul weg probeer vind. Daar is nuwe kombinasies wat nog moet kliek en hul selfvertroue is gewis nie wat dit moet wees nie.

Voorlangs het die Kapenaars net te veel spiere en dit sal hulle op die voorvoet sit. Hulle het wel nie vir Herschel Jantjies om die rigting van agter die agttal te bepaal nie en dit maak die speelveld aansienlik meer gelyk, maar steeds is dit moeilik om te sien hoe die Stormers nie hul eerste oorwinning sedert 2015 op Ellispark gaan behaal nie.

Leeus: Andries Coetzee, Tyrone Green, Manuel Rass, Dan Kriel, Courtnall Skosan, Elton Jantjies (k), Morné van den Berg, Len Massyn, Vincent Tshituka, Marnus Schoeman, Marvin Orie, Ruben Schoeman, Jannie du Plessis, Pieter Jansen en Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Sti Sithole, Carlu Sadie, Wilhelm van der Sluys, Willem Alberts, Hacjivah Dayimani, Dillon Smit en Wandisile Simelane.

Stormers: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Jamie Roberts, Seabelo Senatla, Damian Willemse, Godlen Masimla, Juarno Augustus, Pieter-Steph du Toit, Johan du Toit, Chris van Zyl, Salmaan Moerat, Wilco Louw, Scarra Ntubeni en Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Ali Vermaak, Frans Malherbe, JD Schickerling, Cobus Wiese, Ernst van Rhyn, Paul de Wet en Jean-Luc du Plessis.

  • Skeidsregter: Jaco Peyper.
  • Assistentskeidsregters: Marius van der Westhuizen en Rasta Rasivhenge.
  • TV-skeidsregter: Willie Vos.
  • Afskop: 15:05 (SS 1, GDN).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Leeus  |  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.