Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Steven Kitshoff sal WP dit wil nadoen

Steven Kitshoff was weliswaar nie verlede jaar by die Westelike Provinsie se suksesvolle Curriebeker-veldtog betrokke nie. Tog sou die wyse waarop die WP die Haaie in die eindstryd in Durban in die skrums gekarnuffel het, vir hom so mooi soos ’n fris biefstuk gewees het.

Steven Kitshoff, die Stormers se Springbok-loskopstut, op loop teen die Bulle. Foto: Gallo Images

Kitshoff se mond water dus seker as hy aan die vooruitsig dink om Saterdag saam met die Stormers terug te keer na Kingspark, die begraafplaas waar die 2017 Haaie-skrum se gebeentes lê – dié keer vir die spanne se Superrugby-stryd.

Kitshoff was vanjaar nog nie so verwoestend soos wat hy kan wees nie, maar sy tweestryd met Thomas du Toit, een van sy voorry-tydgenote, kan dalk net die doepa wees om dié rooikop aan die brand te kry.

Du Toit beleef ’n wipplank-seisoen op vaskop, ’n posisie wat vreemd is vir hom.

Die Stormers het verlede naweek gerus ná agtereenvolgende nederlae teen die Bulle en die Leeus, terwyl die Haaie ’n liederlike loesing deur die Bulle toegedien is.

Dit is nie vergesog om te voorspel dat die span wat die beste skrum, hul roes met ’n sege sal afskud nie.

Robert du Preez, die Haaie-breier, besef die Stormers sal hulle voorlangs teiken ná die gebeure van verlede jaar se eindstryd.

“Dit gaan alles oor die pak. Ons moet voorlangs oorheers, anders gaan dit ’n lang middag raak. Die vaste fasette sal móét werk. Hulle sal ons daar probeer teiken, maar ons sal gereed wees,” sê Du Preez.

Thomas du Toit, die Haaie se vaskopstut, dra die bal in sy span se Super-stryd teen die Rebels. Foto: Getty Images

Die breier het ook erken hy was nie heeltemal tevrede met die wyse waarop die WP in daardie stryd geskrum het nie.

“Ons was verlede jaar ’n bietjie bekommerd oor (die WP se) stabiliteit in die skrums. Ons het met die wedstrydbeamptes daaroor gepraat.”

Du Toit het die nr. 1-trui in die eindstryd gedra en Wilco Louw, wat Saterdag ook vir die Stormers vaskop speel, het hom verniel.

Du Preez sê hy het sy troepe gevra om Saterdag se wedstryd bloot te geniet.

“Dit is ’n rugbywedstryd, nie ’n saak van lewe en dood nie, al voel dit soms so.

“Dit is ’n baie, baie belangrike wedstryd vir albei spanne. ’n Sege kan ons seisoen omdraai,” sê hy.

Spanne

Haaie: Curwin Bosch, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Robert du Preez, Cameron Wright, Dan du Preez, Jean-Luc du Preez, Philip van der Walt, Stephan Lewies, Ruan Botha (k), Thomas du Toit, Chiliboy Ralepelle, Juan Schoeman. PLAASVERVANGERS: Akker van der Merwe, Mzamo Majola, Ross Geldenhuys, Tyler Paul, Jacques Vermeulen, Louis Schreuder, Marius Louw, Lwazi Mvovo.

Stormers: Dillyn Leyds, Craig Barry, EW Viljoen, Damian de Allende, Raymond Rhule, Damian Willemse, Dewaldt Duvenge, Sikhumbuzo Notshe, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Chris van Zyl, Jan de Klerk, Wilco Louw, Ramone Samuels, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, JC Janse van Rensburg, Carlu Sadie, Kobus van Dyk, Nizaam Carr, Paul de Wet, SP Marais, JJ Engelbrecht.

  • Skeidsregter: Glen Jackson (NS).
  • Assistent-skeidsregters: Egon Seconds en Cwengile Jadezweni (albei SA).
  • TV-skeidsregter: Marius Jonker (SA).
  • Afskop: 17:15 op SS 1, M-Net.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Haaie  |  Stormers  |  Steven Kitshoff  |  Robert Du Preez  |  Superrugby  |  Kingspark  |  Thomas Du Toit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.