Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Kiwi’s het groot aptyt vir drama op veld

Nóg ’n Nieu-Seelandse Superrugby-derbystryd het Saterdagoggend vir vonke gesorg toe die Highlanders en Chiefs met 31-31 in Dunedin gelykop gespeel het.

Met nog 25 minute se speeltyd oor en ’n voorsprong van 28-12 het dit gelyk of die tuisspan genoeg gedoen het vir ’n oorwinning. Die Chiefs het egter ander planne gehad en die toeskouers in Dunedin oorbluf gehad toe hulle drie drieë gedruk het om die gelykop-uitslag af te dwing.

DUNEDIN, NEW ZEALAND - MAY 04: Ben Smith of the H
Ben Smith kry mediese behandeling in die kragmeting tussen die Highlanders en die Chiefs. Foto: Getty Images

Oor dié opwindende stryd is daar agterna baie gegons, maar die stamp teen die kop wat die All Black Ben Smith, heelagter van die Highlanders, gekry het, sou Kiwi-ondersteuners en Steve Hansen, die nasionale afrigter, laat asem ophou het.

Die kwiksilwer- Chiefs-heelagter Damian McKenzie se Wêreldbekerveldtog is reeds iets van die verlede ná ’n ernstige besering en Hansen sal slapelose nagte hê indien hy die ervaring van Smith ook verloor.

Voor sy besering was Smith een van die Highlander-staatmakers. Hy het saam met Josh Ioane, Matt Faddes en James Lentjes sy span se drieë gedruk.

Die Chiefs het met drieë deur Brad Weber, Luke Jacobson, Angus Ta’avao (2) en Tyler Ardron geantwoord om die louere te deel.

* In Wellington was die Hurricanes vinnig uit die wegspringblokke teen die Rebels en het hulle ná 20 minute se spel met 26-0 voorgeloop.

Hulle het egter die voet van die versnellerpedaal gehaal en net uitgehou om dié stryd met 29-19 te beklink ná ’n moedige terugvegpoging deur die Aussies in die tweede helfte.

Ngani Laumape, Beauden Barrett, Wes Goosen en Vaea Fifita het almal briljante individuele drieë gedruk.

Vir die Rebels, wat hul vorige twee wedstryde teen Kiwi-spanne gewen het, het drieë deur Matt Philip, Billy Meakes en Reece Hodge die terugvegpoging gelei, maar hulle het nie genoeg stoom gehad om die groot voorsprong van die eerste helfte uit te wis nie.

* Die haker Folau Fainga’a het drie drieë vir die Brumbies gedruk in hul oorwinning van 26-21 oor ’n ongedissiplineerde Blues-span.

Die Kiwi’s is met twee geelkaarte gestraf en kon nie werklik momentum opbou nie. Hulle het ook te veel strafskoppe afgestaan met die Brumbies wat rolmaalbewegings ingespan het om die Blues lam te lê.

* Vrydag het die Reds vir die tweede keer dié seisoen van agter af gekom toe hulle die Sunwolves met 32-26 in Brisbane geklop het, met die Sun­wolves wat vyf kaarte (vier geel en een rooi) gekry het.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Highlanders  |  Rebels  |  Blues  |  Sunwolves  |  Ben Smith  |  Superrugby  |  Hurricanes  |  Chiefs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.