Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Kliniese ’Saders behou Super-titel teen Leeus

Teen ’n moordend kliniese Crusaders-span sou die wavrag leeuemoed waarmee die Leeus Saterdagoggend in Christchurch in die Superrugby-eindstryd gespeel het, nooit genoeg gewees het om ’n opskudding te veroorsaak nie.

Die Crusaders het gewys waarom hulle die afgelope twee jaar die beste franchise in die Suidelike Halfrond is deur die begeesterde Leeus sonder veel moeite met 37-18 te verslaan en sodoende hul Super-titel suksesvol te verdedig.

Cyle Brink op pad na sy drie in die Superrugby-eindstryd teen die Crusaders. Foto: Getty Images

Soos ’n geduldige, ongenaakbare bokser het die Crusaders eenvoudig van die Leeus se foute af gevoed. In ’n rugbywêreld waar almal behep is met aanskoulike hardlooprugby, is dié Kiwi-span baanbrekers met hul wedstrydplan wat op geduld en verdediging geskoei is.

Strykdeur die seisoen het die Crusaders verkies om meer tyd in ’n wedstryd sonder as met die bal deur te bring.

Dít was Saterdag ook die geval. Die Leeus het ’n leeueaandeel in die balbesit en gebiedsvoordeel gehad, maar kon eenvoudig nie die Crusaders se verdedigingskodes ontsyfer nie.

Selfs wanneer die tuisspan die bal gekry het, het hy geen probleem daarmee gehad om dit eenvoudig terug te skop vir die Leeus nie. So asof hulle sê: “Dê, kyk of jy kan deurkom. As jy kan, mooi vir jou, maar as jy ’n fout maak . . .”

Hoewel die Leeus met moed gespeel het, het hulle ’n oordeelsfout of twee begaan.

Die Johannesburgers het beslis nie verwag die Crusaders sal een van die Leeus se dodelikste wapens, hul rolmaalbewegings, so goed in die kiem smoor nie. Met die telling op 10-3 in die tuisspan se guns, het die Crusaders ’n strafskop in hul kwartgebied afgestaan.

In plaas daarvan om die drie punte te neem, het die Leeus uitgeskop om te dryf – dít nadat die Crusaders reeds twee keer hul rolmale ver teruggedryf het. Nodeloos om te sê het dieselfde by dié rolmaalbeweging gebeur.

Presies hóé klinies die Crusaders is, is geïllustreer elke keer wat hulle net naby aan die Leeus se kwartgebied gekom het.

Die drie wat die heelagter, David Havili, gedruk het om die telling na 20-3 te rek, het juis gekom ná ’n Leeus-fout.

Elton Jantjies het die bal hoog die lug ingesool en Lionel Mapoe se jaagwerk was nie goed genoeg nie.

Die Crusaders vier Seta Tamanivalu (met die bal) se drie in die Superrugby-eindstryd. Foto: Getty Images

Die briljante Crusaders-losskakel, Richie Mo’unga, het die bal soos ’n ryp lemoen uit die lug gepluk en rieme neergelê. Mapoe het teruggeval en hom platgetrek, maar ’n vinnige uitgooi – nog ’n hoofbestanddeel van die Crusaders se suksesresep – het Havili in staat gestel om oor te duik.

Die Leeus het net voor die rustyd met ’n strafdoel geslaag om die rustydtelling op 20-6 in die tuisspan se guns te laat staan.

Cyle Brink, die Leeus-flank, het uiteindelik in die tweede helfte deur die Crusaders se skynbaar ondeurdringbare verdediging gebars en die Leeus se eerste drie van die eindstryd gedruk. Dié drie het die telling na 13-23 laat krimp, maar die tuisspan het nie paniekerig geraak nie.

Toe Ryan Crotty later met ’n geelkaart van die veld is ná negatiewe spel, het Malcolm Marx die Leeus se tweede drie gedruk. Dít was egter slegs ’n troosdrie, want die uitslag was nooit in die weegskaal nie.

Waarvoor die Leeus ook baie krediet verdien, is hul blatante weiering om die stryd gewonne te gee.

Kiwi-spanne sny jou bloeiende keel gewoonlik morsaf in die laaste 20 minute van ’n wedstryd, veral as jy hulle toelaat.

Die Leeus was nié van plan om dít toe te laat nie. Hulle was ook nooit van plan om slegs ’n toeskouer in dié eindstryd te wees nie; hulle het oor die Indiese Oseaan gevlieg om álles in die stryd te werp om daardie ontwykende Super-trofee met hul derde probeerslag te verower.

Op die keper beskou: Die Leeus kan baie trots op hul vertoning wees, maar hulle was eenvoudig nie goed genoeg om die Superrugby-reeks te wen nie. Of liewer – die Crusaders was eenvoudig net té goed om nié te wen nie.

* Puntemakers:

Crusaders 37 (20): Drieë: Seta Tamanivalu, David Havili, Mitchell Drummond, Scott Barrett. Doelskoppe: Richie Mo’unga (4). Strafdoele: Mo’unga (3).

Leeus 18 (6): Drieë: Cyle Brink, Malcolm Marx. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies (2).

Meer oor:  Richie Mo'unga  |  Leeus  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.