Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘Koes vir die vories, nie die vleuels’

“Moenie ’n fiksasie met grootte ontwikkel nie.”

Die buksie-vleuel Cheslin Kolbe tel onder die Stormers met die beste spelpeil in vanjaar se Superrugby-reeks, meen hul agterlynafrigter, Paul Feeney. Foto: Gallo Images

Dis die boodskap van die Stormers se Nieu-Seelandse agterlynafrigter, Paul Feeney, in die aanloop tot Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Crusaders in Christchurch.

Terwyl die Crusaders nie met die grootste agterlyn in die reeks spog nie, kan hulle deur Manasa Mataele en Seta Tamanivalu as vleuels te kies met aansienlik meer spiere in die wye kanale as die Stormers spog.

Mataele en Tamanivalu weeg onderskeidelik 100 en 105 kg. Hul regstreekse teenstanders – onderskeidelik Cheslin Kolbe en Dillyn Leyds – weeg volgens Sanzaar se webwerf albei 80 kg.

’n Soortgelyke tema sal waarskynlik opduik teen die Stormers se ander teenstanders op toer – die Highlanders en Hurricanes.

“Ons het self bielies in die agterlyn. Dan du Plessis en EW Viljoen kan die bal sterk opdra. Jy moet net jou hardlooplyne aanpas waar jou groter spelers is,” sê Feeney.

“Die Crusaders is groot agterlangs, maar Cheslin en Dillyn is puik verdedigers. Hulle posisioneer hulself goed op die punte. Die meeste vleuels sal mos groter as Cheslin wees, of hoe?”

Die Stormers se Nieu-Seelandse agterlynafrigter, Paul Feeney. Foto: Gallo Images

Feeney het bygevoeg dat Leyds en Kolbe onder die Stormers met die beste spelpeil tel.

“Hulle vaar goed op die aanval en verdediging. Jy kry spelers wat 10 kg bo hul gewig kan speel. Ek dink beslis Cheslin val in daardie kategorie.”

Feeney meen in elk geval die Crusaders is ’n span wat “deur die beste agttal in die reeks” gedryf word. Dáár spog die Kiwi’s met etlike gevestigde All Blacks, insluitend die kaptein, Kieran Read.

“Dis die All Blacks onder die voorspelers wat die Crusaders gevaarlik maak. Daar is ouens soos Joe Moody, Owen Franks, Wyatt Crockett (almal stutte), Sam Whitelock, Luke Romano (albei slotte), Kieran Read, Scott Barrett en Matt Todd (almal losvoorspelers). Hulle kan met gemak ’n All Black-pak vol maak,” sê Feeney.

“Die Crusaders is baie goed in die vaste fasette en baie fisiek. Agterlangs het hulle in Richie Mo’unga ’n losskakel wat wasdom bereik het noudat hy drie jaar Superrugby gespeel het. Ryan Crotty is ’n yster in die middelveld, Seta is op die vleuel en daar is goeie jong spelers soos Jack Goodhue. Dis egter die voorspelers wat vir hulle die grondslag lê.”

Met dit in gedagte is dit belangrik dat die Stormers hul wisselvalligheid by die vaste fasette uitskakel. Dit het hulle weer eens in die afgelope naweek se nederlaag van 16-29 teen die Leeus gekortwiek.

Dis All Black-voorspelers soos Kieran Read (links) en Sam Whitelock wat die Crusaders se agttal die beste in die reeks maak, volgens die Stormers se Paul Feeney. Foto: Gallo Images

“Ons skrums was op eie invoer goed, maar daar was ’n paar keer op die Leeus s’n ’n probleem met konsentrasie. Die voorspelers het daaroor gesels,” sê Feeney.

“Ons het ’n paar balle by die lynstane verloor, maar het steeds genoeg gedoen in die vaste fasette om die wedstryd te kan wen. Dis eerder die span se aanvallende spel in die algemeen wat nie na wens was nie as ’n geval van die voorspelers wat by die vaste fasette gevou het. Ons sal dit moet opskerp.”

Feeney meen ook die Crusaders baat by die “wittebrood” van hul eerste jaar onder Scott Robertson se afrigting.

“Wanneer daar ’n nuwe afrigter is, is almal daarop ingestel om hom te beïndruk,” sê hy.

“Ons besef ’n baie taai taak wag op ons, maar ons is opgewonde daaroor om te sien hoe ons teen die sterkste span in die reeks vaar.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-uitslae

Superrugby-puntelyste

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby  |  Paul Feeney
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.