Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Kriel nog lank op krukkelys ná enkeloperasie
Jaco Kriel is terug in Johannesburg, maar sal waarskynlik eers in April vir die Leeus kan uitdraf.Foto: Getty Images

Al is hy terug in die Leeukuil, sal Jaco Kriel nie sommer gou in die Rooibonttrui gesien word nie.

Hy is nog besig met sy rehabilitasie ná ’n enkeloperasie in Desember en sal waarskynlik eers in April sy terugkeer tot die speelveld maak.

Die 30-jarige Kriel het Dinsdag die media te woord gestaan by die Leeus se oefening in die Johannesburg-stadion en was geesdriftig oor sy terugkeer.

“Ek is baie bly om terug te wees. Ek het veral my pa baie gemis, asook my familie, vriende en my spanmaats,” sê hy.

Kriel vertel dat beserings hom ook kwaai gekortwiek het in Engeland, waar hy vir die klub Gloucester gespeel het.

“Ja, dinge het net nie lekker daar uitgewerk nie. Tog was dit vir my ’n goeie ding om soontoe te kon gaan, want ek sou altyd gewonder het daaroor as ek nie die kans gewaag het nie,” het hy gesê.

“Hier by die Leeus is daar nou nuwe gesigte en is dinge so ’n bietjie anders, maar ek glo die basiese aspekte wat van die Leeus ’n wenspan gemaak het, geld steeds,” sê hy.

“Ek het by van die ouens soos Elton (Jantjies) en Courtnall (Skosan) gehoor dat die voorseisoen van die strafste was wat hulle tot nog toe gehad het.

Dit is ook wonderlik om weer van my beste vriende soos Warren (Whiteley) en Andries Coetzee te kon sien. Dit voel net bietjie vreemd om Warren nou as afrigter te sien.
Jaco Kriel

“Dit is ook wonderlik om weer van my beste vriende soos Warren (Whiteley) en Andries Coetzee te kon sien. Dit voel net bietjie vreemd om Warren nou as afrigter te sien,” sê Kriel.

Sedert dié beweeglike flank twee seisoene gelede ’n skouer-operasie ondergaan het, het beserings hom strykdeur geteister.

“Dit voel net vir my asof ek dit nie kan afskud nie. Jy kan ook nie wil speel asof jy bang is vir beserings nie. Dit is juis dan wanneer dit jou tref.

“Ek werk juis nou maar aan my krag en hardloop op ’n voerband. ’n Mens moet maar versigtig wees met jou oefeninge,” sê hy.

Kriel sê al is dit nie goed vir die Leeus om die seisoen met ’n nederlaag te begin het nie, voel hy tog die ervaring vir van die jonger spelers om daar in Buenos Aires in baie moeilike omstandighede te kon speel, sal baie waardevol wees.

Hy het steeds die ambisie om die Springboktrui weer aan te trek, maar vir eers is sy fokus daarop om weer ’n gevestigde lid van die Leeus te word.

Kriel erken ook die leierskap het ter sprake gekom in sy onderhandelings met die Leeus oor die kontrak wat hy nou vir die volgende drie jaar onderteken het.

Die leierskap van ’n span moet verdien word, en nie net aan my gegee word net omdat ek in die verlede kaptein was nie.
Jaco Kriel

“Ek wil egter nou eers net speel en myself hier ingrawe by die Leeus. Die leierskap van ’n span moet verdien word, en nie net aan my gegee word net omdat ek in die verlede kaptein was nie.

“Vir eers wil ek net speel sonder enige verantwoordelikheid van ’n leier wees,” sê hy.

Wat het hy die meeste van Suid-Afrika gemis terwyl hy daar in Engeland gespeel het?

“Soos ek gesê het, om naby aan my pa te wees, maar ook die kos. Die porsies daar is so klein. As jy klaar geëet het, is jy nog honger,” sê hy.

Met daardie honger wat nog met boerekos hier terug by die huis gestil gaan word, sal net die honger vir sukses op die speelveld oorbly om geblus te word.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Jaco Kriel  |  Johannesburg  |  Rugby  |  Beseer  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.