Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
'Kriel se Leeus-terugkeer groot hupstoot'

Jaco Kriel se terugkeer na die Leeus gaan ’n groot hupstoot vir die rugbyspan van die Goudstad wees, sê Swys de Bruin, wat tot verlede jaar nog hul hoofafrigter was.

Jaco Kriel is straks eersdaags weer in die rooi-en-wit van die Leeus in aksie. Foto: Getty Images

“Toe hy aankondig dat hy sy rugbyloopbaan in Engeland gaan voortsit, het ek nog vir Jaco gesê ek dink nie dit is die regte skuif vir hom nie. Ek ken hom en sy geaardheid, en ek was net oortuig daarvan dat hy nie daar sou aard nie.

“Ek het mos gesien hoe reageer hy op toere en daar in die vreemde was dit nie altyd sy tipe omgewing nie.

“Hy hou van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse manier van dinge doen. Hy kom van Standerton af en is lief vir sy vleisie en om te braai en om al die Suid-Afrikaanse dinge te doen. Daar anderkant die water werk dit nie so nie.

“Ek was baie opgewonde toe ek hoor dat Jaco op pad terug is. Hy sal weer ’n groot aanwins vir die Leeus wees,” sê De Bruin.

“Hy gaan weer blom by die Leeus en die Jaco Kriel wees wat ons almal ken. Sy invloed gaan enorm wees.

“Ek het die wêreld se respek vir hom as leier en hy was die een ou by die Leeus saam met Warren Whiteley en Jacques van Rooyen, wat die ouens kon optel wanneer die spangees ’n bietjie af was. Ek kon ook baie eerlik en opreg met hom gesels.

“Hy was die een ou van die groep wat oorsee gaan speel het, wat in die eerste plek nooit moes gegaan het nie. Sy rugbyhart lê hier in Suid-Afrika en by die Leeus,” sê De Bruin.

“Dit is nie sommer almal wat daar in Europa aanpas nie. Ek dink in elk geval baie spelers doen dit maar net vir die geld. Ek het juis verlede jaar vir een van die spelers wat daar anderkant speel, gevra hoe kry hy dit reg in daardie koue en nat toestande. Sy antwoord was: Coachie, as ek aan die einde van die maand daardie tjek kry, maak dit alles die moeite werd.”

De Bruin glo met spelers soos Kriel, Jannie du Plessis en Willem Alberts se ervaring by die Leeus gaan dit baie waardevol vir die span van die Goudstad wees.

“Jannie is ’n besonderse mens en het dieselfde tipe invloed daar as wat Schalk Brits het by die spanne waarby hy betrokke is. Ek sien met Ruan Pienaar se terugkeer na die Cheetahs ook watter rol daardie ouer en ervare manne het. Hul ervaring maak ’n groot verskil,” sê hy.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Leeus  |  Superrugby  |  Jaco Kriel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.