Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Kritiek op SA blasers strooi, sê Sanzaar

Sanzaar, die beheerliggaam van die Superrugby-reeks, het by monde van Andy Marinos, sy uitvoerende hoof, praatjies van eenogigheid deur Suid-Afrikaanse wedstrydbeamptes as twak afgemaak.

“Dis interessant dat die kwessie van onverbonde beamptes geopper word wanneer aanstellings vir meer as ’n dekade al op verdienste geskied,” het Marinos in Sydney by ’n fondsinsameling vir die slagoffers van die verwoestende veldbrande in Australië gesê.

“Ek dink ’n mens moet dit maar vertolk aan die hand van waar die kritiek vandaan kom.”

Dié kwessie het verlede Vrydag sy kop uitgesteek nadat daar in Australië berig is dat Suid-Afrikaanse skeidsregters oor die laaste drie jaar in Suid-Afrika 159 meer strafskoppe teen oorsese as plaaslike spanne toegeken het.

Andy Marinos, uitvoerende hoof van Sanzaar. Foto: Getty Images

Greenandgoldrugby.com, ’n webtuiste vir Australiese rugbyondersteuners, dryf die veldtog teen Suid-Afrikaanse blasers. Die statistieke, wat nie onafhanklik bevestig is nie, het Baden Stephenson, die Rebels se uitvoerende hoof, genoop om gal te braak oor Suid-Afrika se blasers en die “integriteit” van die toernooi.

Dít was op die vooraand van ’n wedstryd tussen die Haaie en die Rebels in Melbourne, waarin die Suid-Afrikaanse skeidsregter AJ Jacobs die fluitjie gedra het.

In Australië is daar ook berig dat sy spanne se uitvoerende hoofde ’n amptelike ondersoek oor dié kwessie wil hê. Dit was egter net Stephenson wat hom daaroor uitgespreek het en geen ander rugbybaas Doer Onder het kommentaar gelewer nie.

Marinos, luidens ’n berig deur ESPN.com, glo nie die statistieke wat voorgehou word nie.

“Mense kom altyd met statistieke vorendag, maar ons sal op die regte tyd vanuit ’n toernooi-perspektief ons mening oor die skeidsregters se vertonings uitspreek,” sê hy.

“Ek verstaan nie waar hierdie kwessie vandaan kom ná 10 jaar van onverbonde skeidsregters nie. Onverbondenheid is skielik ’n kwessie, want ’n span, of spanne, is ewe skielik gegrief deur die proses.

“Ons moet daardie statistieke toets en ’n volle prentjie skets. Dis iets wat ons sal doen en mettertyd sal oordra.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Blasers  |  Skeidsregters  |  Andy Marinos  |  Superrugby  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.