Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Krukkelys: Soet én suur vir die Bulle

Daar was Maandag goeie en slegte nuus in die Bulle-kamp.

Marco van Staden word Saterdag op Loftus Versfeld van veld gehelp nadat hy sy knie en enkel beseer het. Foto: Gallo Images

Eers die goeie nuus: die knie- en enkelbesering wat Marco van Staden Saterdag op Loftus Versfeld in die laaste minuut van die wedstryd teen die Brumbies opgedoen het, is nie so ernstig soos gevrees is nie.

Daar is vermoed die kniebesering gaan sy seisoen kortknip, maar ’n skandering het Maandag gewys dat hy slegs sy enkel kwaai geswik het.

Dr. Herman Rossouw, spandokter van die Bulle, sê die kans is goed dat Van Staden op sy pos sal wees wanneer die Superrugby-kompetisie aan die einde van Junie hervat.

Dit is ook goeie nuus vir die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, wat glo van plan was om dié vurige losvoorspeler in die groep vir die reeks teen Engeland te kies.

Nou vir die slegte nuus: die flank Roelof Smit het ’n ligament in sy regterknie geskeur en sal minstens tien tot 12 weke op die span se beseringslys wees.

Van Staden op een van sy stormlopies Saterdag teen die Brumbies in die spanne se kragmeting in die Superreeks. Foto: Gallo Images

Hy sal dus nie weer in die Superreeks in aksie wees nie en behoort ook ’n deel van die Curriebeker-kompetisie mis te loop.

Die krisis onder die losvoorspelers sal beter daar uitsien aanstaande maand.

Jannes Kirsten, Hanro Liebenberg en Ruan Steenkamp is almal aan die einde van hulle rehabilitasie-programme en sal voluit saamoefen wanneer die Bulle begin voorberei vir die ontmoeting met die Sunwolves op 30 Junie.

Die aanwins uit Bloemfontein, Paul Schoeman, sou ook teen dan by sy nuwe spanmaats aangesluit het.

* John Mitchell het sover vanjaar genoeg gedoen om by Loftus Versfeld te oortuig hy is die uitverkorene om weer van die Bulle ’n wenspan te maak.

Maar selfs dié besluitnemers sal onrustig wees oor die span se swak vertonings die laaste twee weke teen die Jaguares en die Brumbies.

Die Bulle het ná 15 rondes van Superrugby ’n wenpersentasie van 38,4% – vyf seges in 13 kragmetings.

Daar was al ’n hele paar voortreflike vertonings vanjaar, maar die span bly hopeloos te onbestendig.

Mitchell het Saterdagaand, nadat die Brumbies sy span 38-28 geklop het op Loftus, gesê hy is bekommerd dat sy span weer gaan lê het in die tweede helfte.

Die Bulle was ná rustyd in ’n stadium 25-17 voor, maar die besoekers het daarna drie keer gaan druk.

“Ons sal die volgende maand gebruik om bestekopname te doen. Dit is duidelik dat opnuut moet fokus op ons doelwitte,” het Mitchell gesê.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Roelof Smit  |  Beserings  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.