Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Kanniedood-Chiefs verstom Crusaders

Wat ’n asemrowende fees was dit nou nie! Die Chiefs het Saterdag vir ’n groot verrassing gesorg toe hy die Crusaders in Fidji met 40-27 verslaan het in wat sekerlik een van die beste wedstryde van vanjaar se Superrugby-reeks was.

Anton Lienert-Brown van die Chiefs loop hom in die Crusaders se verdediging vas in Fidji. Foto: Getty Images

Dít nadat die Crusaders ná 20 minute gerat gelyk het vir ’n wegholoorwinning en reeds ’n voorsprong van 20-0 opgejaag het.

Niks wou aanvanklik vir die Chiefs werk nie. Hul verdediging was aan skerwe en die Crusaders het hulle gaar gehardloop.

Scott Barrett, Mitchell Drummond en Sevu Reece het almal aanskoulike drieë ingeryg met die damwal wat gelyk het op hy nie net krake wys nie, maar besig is om ineen te stort.

Maar toe kom 12 ongelooflike minute van rugby van die Chiefs.

Die Chiefs vat toe uit die bloute vlam en gaan druk self drie uitstekende drieë wat hul vermoëns op die aanval deeglik ten toon gestel het.

Solomon Alaimalo, Samisoni Taukei’aho en Jesse Parete bring toe skielik die telling tot 20-19 in die Crusaders se guns teen die tyd dat die rustydfluitjie geblaas word.

En al die ondersteuners berei hulself toe al voor vir ’n opwindende tweede helfte wat voorgelê het.

En dis presies waarmee hulle bederf is.

Skaars twee minute ná rustyd vergroot die Crusaders weer hul voorsprong met die linkervleuel, Braydon Ennor, wat oor die kalklyn geseil het om met 27-19 voor te loop.

Die Chiefs het egter nie dié slag dat sake weer weghardloop nie en die skrumskakel, Brad Weber, wat ’n vertoning gelewer het wat hom nog lank sal bybly, het sy span weer binne trefafstand gebring toe hy gaan druk het om wéér die punteverskil tot ’n enkele punt te verklein op 27-26.

Die spel het deurlopend van die een kant van die veld na die ander gegaan met selfs die toeskouers in die ANZ Nasionale Stadion wat skoon uitasem sou wees.

Die Chiefs het toe hul terugvegpoging nog ’n stap verder geneem en Shaun Stevenson het vir die eerste keer aan sy span die voortou gegee toe hy afgerond het.

Jack Debreczeni, wat 10 punte met die skopskoen bygedra het, het verdoel om die Chiefs met 33-27 te laat voorloop.

Debreczeni het met ’n strafskop pale toe gekorrel en die geleentheid gehad om die wedstryd buite die bereik van die gunstelinge te sit. Dié skop was egter mis, maar die plaasvervanger Tumua Manu onderskep toe kort daarna om die Crusaders se doppie te klink.

Connal McInerney van die Brumbies het ’n barshou van die plaasvervangersbank af gespeel teen die Sunwolves in Tokio.Foto: Getty Images

* Die Brumbies het die Sunwolves met 42-19 pak gegee in die Prince Chichibu-stadion in Tokio.

Connal McInerney het net die vyfde speler in Superrugby se geskiedenis geword wat as plaasvervanger in die tweede helfte opgekom en drie keer agter die doellyn gedraai het.

Die Sunwolves het ’n droombegin tot die wedstryd gehad en al binne die eerste minuut die telbord aan die rol gekry toe die vleuel Hosea Saumaki ’n hangskop van die heelagter Semisi Masirewa bemeester het en doellyn toe genael het.

Die Australiërs het egter kalm gebly en daarna beheer van sake geneem en ses drieë teenoor die Sunwolves se drie ingeryg.

Meer oor:  Fidji  |  Crusaders  |  Superrugby-Reeks  |  Chiefs  |  Sunwolves  |  Brumbies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.