Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
KYK: Was Stormers gelukkig?

Die Stormers is op hete kole oor die fiksheid van Bongi Mbonambi, hul Springbok-haker, voor Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Highlanders op Nuweland.

Mbonambi is vir ’n skandering gestuur nadat hy in die eerste helfte van die gelykopstryd van 19-elk teen die Crusaders ’n bobeenbesering opgedoen het.

Scarra Ntubeni was ’n waardige plaasvervanger, maar Mbonambi is Suid-Afrika se tweede beste haker ná Malcolm Marx en beleef ’n goeie seisoen.

’n Span moet ook twee goeie hakers in sy 23-tal hê om ’n afrigter se hand te versterk met ’n plaasvervanger-strategie in die tweede helfte en dit kan lol as die Stormers nou vir Mbonambi verloor. Ramone Samuels herstel nog van ’n langtermyn-besering.

Die eerste opsie sal waarskynlik wees om vir Corné Fourie, wat gewoonlik as ’n plaasvervanger-loskopstut aangewend word, as reserwe-haker te oorweeg. Dan weer is die probleem dat die Stormers sukkel met sy diepte op loskopstut, nadat Ali Vermaak vroeër in hul veldtog beseer is.

Damian Willemse vier Siya Kolisi se drie teen die Crusaders op Nuweland. Dit was so hittete of Willemse het die wendrie vir die Stormers in die doodsnikke gedruk. Foto: Gallo Images

Chad Solomon staan ook in die tou op haker, maar het homself nog nie eers op Curriebeker-vlak gevestig nie.

Die Springbok-binnesenter Damian de Allende se kuit het ook deur die loop van die wedstryd gelol, maar daar skort niks ernstig met hom nie. Al waaroor Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, gaan moet nadink, is oor wanneer hy De Allende nóg ’n verpligte ruskans gaan gee, ingevolge die franchises se ooreenkoms met die Springbokke.

Die Stormers is ná die twee ligapunte wat hulle in die gelykopstryd gekry het steeds onderaan die puntelys in die Suid-Afrikaanse groep, maar drie van hul oorblywende vier wedstryde gaan op Nuweland gespeel word.

Daar is ook nog wedstryde teen spanne in hul groep – die Leeus op Ellispark en Haaie op Nuweland – wat wag. Met die voorlopers slegs ses punte voor die Stormers, is dit lank nog nie ’n verlore saak nie.

Ofskoon die Stormers op die keper beskou ’n gelykopuitslag verdien het, sal daar baie debat gevoer word oor ’n beslissing deur Marius Jonker, die TV-skeidsregter, dat daar ’n vorentoe aangee was voordat Sevu Reece vyf minute voor die einde vir die Crusaders afgerond het.

Jou eerste instink is om te sê dat die bal agtertoe is uit Braydon Ennor se hande met sy aangee na Reece, maar in baie stadige aksie ontstaan twyfel.

Die Stormers kon teen die einde nog die wedstryd gewen het, maar die bal het sleg gespring vir Damian Willemse en hy het gevolglik Jean-Luc du Plessis se uitstekende dwarsskoppie net voor die doellyn aangeslaan.

Die Stormers se Springbok-haker, Bongi Mbonambi, dra die bal in Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Crusaders op Nuweland. Foto: Gallo Images

Ongeag daardie verbroude kans, was Fleck in sy noppies met dié vertoning.

“As die bal perfek gespring het, kon Damian dalk gedruk het, maar die Crusaders het ook ’n geleentheid of twee gehad waar ons gelukkig was,” sê hy.

“Ons weet nou ons kan teen die bestes ons man staan. As ons elke week met daardie intensiteit en ingesteldheid kan speel, het ons ’n goeie kans om die uitspeelrondes te haal.”

Meer oor:  Marius Jonker  |  Stormers  |  Crusaders  |  Siya Kolisi  |  Damian Willemse  |  Superrugby  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.