Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus baas oor Rebels ná U-draai

Die woorde waarmee Swys de Bruin sy Leeus-span se vertoning teen die Rebels Saterdagmiddag met rustyd verduidelik het, is nie publiseerbaar nie.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - MARCH 16: Malcolm Mar
Malcolm Marx, haker van die Leeus, duik oor vir sy drie. Foto: Gallo Images

Weet maar dit was presies so ’n minagtende beskrywing soos wat die Johannesburgers in daardie stadium verdien het. Toe die Rebels boonop reeds in die derde minuut van die tweede helfte hul voorsprong tot 33-5 rek, nadat Elton Jantjies op sy eie doellyn aangeslaan het, het ’n mens gedink De Bruin se (sekerlik soortgelyke) rustydpraatjie het op dowe ore geval.

Toe nie. Toe glad nie. Net toe talle Leeus-ondersteuners in die pawiljoen begin wonder het of hulle nie maar moet begin hek toe staan nie, het die Johannesburgse span met hul beste halfuur van die Superreeks tot dusver vorendag gekom en die Australiërs danksy Gianni Lombard se doodsnik-strafdoel en elke speler se kanniedood-houding met 36-33 gebêre.

So swak soos die Leeus in die eerste helfte was – swak hantering, patetiese verdediging planloosheid op die aanval en swak kommunikasie in die lynstane het dié 40 minute gekenmerk – so goed was hulle in die tweede helfte. 

Met die Wallabies Quade Cooper en Will Genia in hul geledere is die Rebels geen sagtekop-span nie, en tog het hulle geen antwoorde gehad nie nadat die Leeus in die 50ste minuut begin vlamvat het.

’n Geelkaart vir die buitesenter Tom English was die katalisator, met drie Leeus-drieë in die vier minute ná sy vertrek wat die gety amper van nêrens in die Johannesburgers se guns gedraai het.

Teen die tyd dat English terug op die veld gekom het, was die Leeus pens en pootjies terug in die wedstryd en sy eie span aansienlik minder giftig. Die tuisspan het – anders as in die eerste helfte – met hart verdedig, amok op die grond gemaak en met oorgawe gehardloop.

’n Groot deel van die verskil in benadering was die teenwoordigheid van Andries Coetzee en Lionel Mapoe, wat albei vroeg van die plaasvervangersbank af opgestuur is en albei onmiddellik die voordeellyn aangeval het. Albei is met drieë beloon, Mapoe nadat hy millimeters voor die doodlyn hand by die bal gekry het. Langs hulle het die 20-jarige heelagter,

Tyrone Green, in sy Superrugby-buiging ook begin wys waarom hy so hoog geag word in dié geweste, deur ’n rits verdedigers na lug te laat gryp. Sy eertydse Jeppe-skoolmaat Wandisile Simelane het met nuwe ywer gespeel, Jantjies se verspreiding was skielik veel beter, Kwagga Smith het oral opgeduik en Vincent Tshituka was so bedrywig dat hy met ’n staande ovasie begroet is toe hy die veld verlaat.

Ook die kaptein, Marx, kon uiteindelik kop omhoog van die veld stap nadat hy vergoed het vir ’n rampspoedige eerste helfte waarin hy ’n hele rits lynstaanballe oor die kop van sy springers gegooi het. Toe hy in die 63ste minuut ’n bal op die grond steel, het hy ’n beweging begin wat geëindig het in ’n drie vir Courtnall Skosan en die Rebels finaal gebreek het.Skielik was Ellispark rumoerig en die Rebels bewerig.

Die flair waarmee Quade Cooper die Leeus in die eerste helfte na lug laat gryp het, was weg en hy en sy spanmaats het die hanteerfoute begin inryg.Die tuisspan daarenteen, was propvol rugby, met elke speler giftig op die aanval. Selfs nadat Jantjies en Smith in die 70ste minuut van die veld gehaal is, het die Leeus se toorkunsies voortgeduur.Tog het dit vir ’n rukkie gevoel of die besluit om Jantjies af te haal, sou boemerang.

Die Leeus het in die laaste vyf minute die een strafskop ná die ander gekry terwyl ’n desperate Rebels-span aanhou reëls oortree het, maar hulle het eerder kantlyn toe geskop en tikskoppies gekies as om die pale op te soek.

Toe Simelane die bal 30 sekondes voor die einde van die 80 minute aanslaan, het dit gevoel asof die Leeus hul kans verspeel het, maar by die daaropvolgende skrum het hulle nóg ’n strafskop afgedwing, die bal na die 21-jarige Lombard gegooi om pale toe te korrel – en twee minute later in ’n rumoerige bondel in die middel van die veld feesgevier oor ’n sege wat 40 minute vroeër onhaalbaar gelyk het.

Puntemakers: Leeus 36 (5): Drieë: Malcolm Marx, Marnus Schoeman, Andries Coetzee, Lionel Mapoe, Courtnall Skosan. Doelskoppe: Elton Jantjies (4). Strafdoel: Gianni Lombard. Rebels 33 (26): Drieë: Reece Hodge, Quade Cooper, Billy Meakes, Isi Naisarani, Tom English. Doelskoppe: Cooper (4).

Meer oor:  Johannesburg  |  Rebels  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.