Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus byt vas en wen met enkele punt

Die Leeus was die enigste ligpunt in ’n donker naweek vir Suid-Afrikaanse Superrugby-spanne toe hulle die Waratahs Saterdag op Ellispark in Johannesburg naelskraap met 29-28 geklop het.

Met dié sege blaas hulle nou weer in die voorlopers se nekke in die Suid-Afrikaanse konferensie.

Malcolm Marx was Saterdag oudergewoonte kookwater vir die Leeus. Foto: Gallo Images

Dit het egter deursettingsvermoë en veggees gevat om die Waratahs baas te raak in ’n senutergende stryd.

Dit was nie die soort wedstryd waarmee ’n afrigter wat aan stres ly, terugverwelkom moet word nie. Dit was intens en die pendulum het voortdurend geswaai. ’n Regte naelbyt-affêre.

In die eerste helfte was dit ’n geval van een vir my en een vir jou. In daardie spannende laaste 40 minute was die wedstryd die hele tyd op ’n mespunt.

Drie keer het die Waratahs gaan druk, net vir die Leeus om terug te slaan met ’n drie van hul eie.

Die tuisspan het hul drieë egter té maklik afgestaan met die Tahs wat net kon deurdraf om af te rond nadat hulle die eerste linie van verdediging oorgesteek het.

Die enigste verskil in die eerste 40 minute wat die telbord betref, was die een meer doelskop wat die Waratahs se losskakel, Bernard Foley, behaal het. Hy het met al sy doelskoppe geslaag, terwyl Elton Jantjies een keer net-net gemis het.

Dit was ’n kragmeting waarin albei spanne nie geskroom het om die bal lug te gee nie en spel het gevloei.

Die Leeus se verdediging was té wisselvallig. Dit was soms baie stewig, net om daarna die ligbloues daar uit Sydney net té maklik deur te laat.

Die skeidsregter, Egon Seconds, het ook in die eerste helfte ’n blatante hoogvat deur die Tahs misgekyk met die Leeus sterk op die aanval.

Die tweede helfte was skaars enkele minute oud toe die Leeus die eerste keer in die wedstryd die neus voor gekry het.

Hulle het besit in hul eie kwartgebied afgeneem en verskeie spelers het hand op die bal gelê voordat Warren Whiteley met ’n binneaangee vir Stephan Lewies op ’n lang lopie gestuur het. Hy het weer vir Courtnall Skosan gevoer om te druk.

Die einste Skosan was die sondaar met die Waratahs se vierde drie toe hy probeer onderskep het en Curtis Rona tot op die doellyn kon vorder voordat die slot Tom Staniforth gedruk het.

Met 12 minute se spel oor het die Leeus weer die voortou geneem met ’n strafskop deur die plaasvervanger-losskakel, Shaun Reynolds.

Die Leeus het kort voor die einde ’n sekere drie punte van die hand gewys deur hoek toe te skop, maar gelukkig vir hulle het dit goed uitgewerk.

Die senter Harold Vorster wat sy terugkeer gemaak het, was uitstekend saam met Whiteley en Kwagga Smith.

* Puntemakers:

Leeus 29 (19): Drieë: Aphiwe Dyantyi, Stephan Lewies, Kwagga Smith, Courtnall Skosan. Doelskoppe: Elton Jantjies (3). Strafdoel: Shaun Reynolds.

Waratahs 28 (21): Drieë: Nick Phipps, Michael Hooper, Rob Simmons, Tom Staniforth. Doelskoppe: Bernard Foley (4).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.