Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus se Brink praat Whiteley moed in
Warren Whitley (regs) laat loop verlede jaar die bal na Cyle Brink in ’n Superrugby-stryd vir die Leeus teen die Bulle. Foto: Gallo Images

As daar een speler is wat die pyn en frustrasie verstaan waardeur die Leeus se kaptein en agtsteman, Warren Whiteley, tans gaan, is dit sy losvoorspeler-spanmaat Cyle Brink.

Net soos Whiteley, is Brink gekniehalter deur ’n beseerde knie. Soos in Whiteley se geval was dit swelling op die knie wat dié belowende flank lank buite aksie gehou het.

Dr. Rob Collins, die Leeus se spandokter, sê met swelling op die knie is die pyn dieselfde as wanneer jy jou been sou breek. Dit is iets wat baie pynlik is en die swelling sit op die been in die knie en is iets wat tyd vat om te herstel.

“My swelling was op ’n ander plek op die knie as Warren s’n, maar ons in gereeld in kontak met mekaar en ek weet presies waarvan hy praat wanneer ons hierdie beserings bespreek.

Ek het ook weer begin speel en toe wéér daardie knie seergemaak. Ek is nou regtig moeg daarvan om beseer te wees.
Cyle Brink

“Ek probeer hom maar sover as moontlik moed inpraat en vertel waardeur ek is om raad te gee,” het Brink vandeesweek by ’n Leeus-oefening gesê.

“Ek het ook weer begin speel en toe wéér daardie knie seergemaak. Ek is nou regtig moeg daarvan om beseer te wees,” erken hy.

“Dit is ’n groot sielkundige stryd en ek het net daardeur gekom met die hulp van my familie en vriende,” gee hy toe.

Brink se sielkundige gehardheid is verlede jaar veral tot die uiterste beproef. Hy het verlede jaar die kans verbeur om in die reeks teen Engeland te speel, weens ’n skouer- en nekbesering.

Nadat hy daarvan herstel het, is hy later in 2018 in die Springbok-groep vir die Rugbykampioenskap ingesluit. Hy het egter sy knie ernstig beseer tydens ’n oefening en kon toe nie sy toetsdebuut maak nie.

“Jy besef maar rugby is ’n baie fisieke spel en enigiets kan op die rugbyveld gebeur. Jy stel jouself maar altyd bloot aan die moontlikheid van beserings,” sê hy.

Cyle Brink beur vorentoe vir die Leeus. Foto: Gallo Images

Brink is juis ook ’n baie fisieke speler wat hard indons.

“Hoe harder dinge gaan, hoe beter vir my. Dit is hoe ek speel en die boodskap wat ek juis van die afrigters kry is om maar net my eie spel te speel. Ek is nou maar net te bly om weer terug op die speelveld te wees en wedstrydtyd te kry,” erken hy.

Die Leeus se verpletterende nederlaag met 5-42 vroeër hierdie seisoen op Ellispark teen die Haaie was juis Brink se eerste wedstryd sedert daardie besering in die Bok-oefening.

“Dit was geen lekker ervaring om jou terugkeer in só ‘n wedstryd te maak nie en dit sal goed wees as ons Saterdag (in Durban) hulle kan terugbetaal vir daardie nederlaag,” sê hy.

In hierdie kragmeting kan Brink ook te staan kom teen nog twee baie fisieke spelers soos hyself, die Du Preez-broers, Jean-Luc en Dan.

“Kyk, ek bemoei my eintlik net met my eie spel en dink ook nie eens daaraan dat hulle bo my in die rangorde vir die Springbokspan is nie. Ek gaan net met die idee op die veld om te doen wat ek glo nodig is om suksesvol te wees.

“Tog is dit wel goed om jouself te kan meet teen van die beste spelers in jou posisie, maar uiteindelik wil ek na my eie vertoning kan kyk en genoegdoening daaruit kan put.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Cyle Brink  |  Warren ­Whiteley  |  Johannesburg  |  Superrugby  |  Rugby  |  Leeus  |  Losvoorspeler  |  Beserings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.