Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus lei Chiefs ‘met opset’ om bos

Die Leeus het die Chiefs verlede Vrydag met ’n slap riem gevang in hul Superrugby-oorwinning van 23-17 in Hamilton.

Dit was die tweede keer in twee kragmetings dat die Leeus met die Chiefs op hul tuisveld kon afreken.

Elton Jantjies trek los met een van sy skoppe Vrydag teen die Chiefs in Hamilton. Foto: Getty Images

Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, het die naweek onthul dat dit bloot ’n taktiese skuif was om die span aan te kondig met die twee Springbokke, Malcolm Marx en Elton Jantjies, op die plaasvervangersbank.

Dit was glo die heeltyd die plan dat hulle wel in die beginspan sou wees.

“Dit was ’n taktiese skuif om die span so aan te kondig, want ons wou die Chiefs laat glo hulle gaan nie speel nie. Veral met Malcolm op die plaasvervangersbank het die Chiefs toe van hul stewige voorspelers laat rus en met hom in die beginspan kon ons hulle die stryd aansê in die skrums en dit het uitstekend gewerk.

“Die grondslag vir ons oorwinning is voorlangs gelê,” het Straeuli gesê.

Volgens hom wou die Leeus ook nie die kat vooraf uit die sak laat deur aan te dui dat Jantjies as binnesenter sou begin nie, met Gianni Lombard op losskakel.

Dit was ook ’n skuif wat baie goed vir die Leeus gewerk het en hulle het baie vloeiendheid agterlangs gehad met goeie besit van die agttal.

Dit was ’n taktiese skuif om die span so aan te kondig, want ons wou die Chiefs laat glo hulle gaan nie speel nie.
Rudolf Straeuli

Tog sal die Leeus nie Vrydag in hul laaste kragmeting op hul oorsese toer, teen die Crusaders in Christchurch, die kampioenspan ook so kan vang nie.

Lombard en Marx is albei terug in Suid-Afrika.

Die lenige en skraal 21-jarige losskakel het ’n kniebesering opgedoen, wat hom die laaste deel van die wedstryd van die veld gedwing het, terwyl Marx hierdie week gewis as deel van die Springbokke se Wêreldbeker-beplanning ’n ruskans sal kry.

Robbie Coetzee sal nou die haker in die beginspan wees, met Jan-Henning Campher wat oorgevlieg het om op die plaasvervangersbank te sit.

Sou Jantjies weer hierdie week speelkans kry, sal hy op losskakel begin, anders kan Sean Reynolds, wat saam met Campher oorgevlieg het, dalk die nr. 10-trui dra.

Die Crusaders gaan ook sonder drie van hul All Black-voorspelers vir hierdie wedstryd wees. Die flank Matt Todd en die slot Scott Barrett moet rus volgens die All Black-protokol, terwyl die stut Owen Franks las van ’n besering het.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Gianni Lombard  |  Leeus  |  Crusaders  |  Rudolf Straeuli  |  Superrugby  |  Malcolm Marx  |  Chiefs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.