Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus kán in onmoontlike glo – Matfield

Die Springbokke het in 2008 rede gehad om te glo hulle kan die skynbaar onmoontlike vermag deur die All Blacks in Dunedin te klop.

Victor Matfield, Bismarck du Plessis en Bakkies Botha vier die Bokke se oorwinning oor die All Blacks in Dunedin in 2008. Foto: Getty Images

Nou, glo Victor Matfield, wat die kaptein was toe die Bokke Nieu-Seeland vir die eerste keer in tien jaar op tuisbodem geklop het, die Leeus het ook rede om te glo hulle kan geskiedenis maak deur die Crusaders Saterdag in die Superrugby-eindstryd in Christchurch te klop.

“As jy ’n goeie span en ’n goeie kultuur het, is dit makliker om te glo jy kan oorsee wen. Voor daardie wedstryd in Dunedin in 2008, het ons dít geglo,” sê Matfield.

Dit is ’n moeilike ding, dié oorsee-spelery. Jy moet gló jy kan.
Victor Matfield

Die Bokke het die All Blacks in daardie wedstryd danksy ’n briljante individuele drie deur die skrumskakel Ricky January met 30-28 verslaan. Sodoende is ’n wendroogte van tien jaar in Nieu-Seeland verbreek. Dit was ook Suid-Afrika se eerste sege tot nog toe in Dunedin.

Vir die Leeus lê ’n berg van dieselfde grootte Saterdag voor. Die Crusaders het verlede jaar die eerste Superrugby-span tot dusver geword om oor die Indiese Oseaan te reis en ’n eindstryd te wen. Dié magtige Kiwi-reus het al vier eindstryde in Christchurch gespeel en elkeen gewen. Hulle het al 20 uitspeelwedstryde, wat halfeindstryde en kwarteindstryde insluit, in dié stad gespeel. En almal gewen.

Victor Matfield en Fourie du Preez lig die Super14-trofee in 2007. Foto: Getty Images

“Dit is ’n moeilike ding, dié oorsee-spelery. Jy moet gló jy kan. Net soos wat ons by die Bokke in 2008 rede gehad het om te glo ons kan die All Blacks klop, het die Leeus rede om te glo hulle kan Saterdag wen,” sê Matfield, wat die Leeus verlede jaar in die Curriebeker-reeks as voorspeler-afrigter bygestaan het.

“Hulle speel Saterdag in hul derde agtereenvolgende eindstryd. Hulle sal glo hulle kan sake omkeer – hulle was verlede jaar ongelukkig om ’n rooikaart (vir Kwagga Smith) in die eindstryd op Ellispark teen ’n baie sterk Crusaders-span te kry.

“Die Leeus se spel toon boonop ’n opwaartse kurwe. Hulle het vroeër in die seisoen gesukkel, maar hul vertonings in die kwarteindstryd en in die halfeindstryd was uitstaande.

“Die terugvegpoging teen die Waratahs sal hulle baie selfvertroue gee. Hulle het op ’n uitstekende wyse rustig gebly. Dít wys hulle glo.”

Matfield skryf die Leeus se regrukpoging in die skemer van die Super-seisoen toe aan die terugkeer van sleutelspelers soos die haker Malcolm Marx en die agtsteman en kaptein, Warren Whiteley.

Niemand het ons ’n kans gegee nie, maar ons het 100% geglo dat ons dit kan vermag. Net so moet die Leeus Saterdag heeltemal glo hulle kan wen.
Victor Matfield

“Warren en Malcolm is baie belangrike spelers vir hulle en ’n mens kan sien hoe ’n groot verskil hulle maak.

“Elton (Jantjies, losskakel) is ook ’n belangrike speler vir hulle en hy speel weer baie goeie rugby die laaste ruk. Aan die begin van die seisoen het hulle net iets makeer.”

Victor Matfield word deur die All Black-agtsteman Rodney So'oialo platgetrek in die Bokke se toets in 2008 teen Nieu-Seeland in Dunedin. Foto: Getty Images

Matfield het die Leeus se seisoen vanjaar met dié van sy Bulle-span van 2007 vergelyk. In daardie jaar het die Bulle die eerste Suid-Afrikaanse span geword om die Superrugby-reeks te wen.

“In 2007 het ons ’n baie swak oorsese toer gehad. Toe kom ons terug en wen ses wedstryde agtereenvolgens. Ons moes boonop die Reds met iets soos 80 punte klop om ’n tuishalfeindstryd teen die Crusaders te verseker.”

Die Bulle het die Reds in die laaste groepwedstryd in 2007 met 92-3 verslaan, die Crusaders in die halfeindstryd geklop en met 20-19 deurgeskraap teen die Haaie in Durban in die eindstryd.

“Niemand het ons ’n kans gegee nie, maar ons het 100% geglo dat ons dit kan vermag. Net so moet die Leeus Saterdag heeltemal glo hulle kan wen.”

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby-Eindstryd  |  Victor Matfield
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.