Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘Leeus moet opstaan of aanhou slae kry’

Die boodskap is duidelik uitgespel aan die Leeus wat hul oorblywende vier wedstryde in die ligafase van die Superrugbyreeks betref.

“Toe ons op daai vliegtuig klim vir die vlug terug huis toe is vir die ouens gesê die keuse is hulle s’n: Hulle kan bly lê en nog slae kry, of ons staan op en kyk almal in die oë en kom weer terug op die wenpad met die durf waaroor ons weet ons beskik,” het Philip Lemmer, die voorspeler-afrigter, gesê.

Die Leeus kon slegs een wedstryd op hul Australasiese Superrugbytoer wen. Foto: Getty Images

“Ons het nog baie werk om te doen. Die taak is nog nie verrig nie, maar ons moet positief bly en wys ons kan opstaan. Natuurlik is die ouens teleurgesteld om drie keer in ’n ry te verloor. Dit is nie iets waaraan hulle gewoond is nie, maar die karakter moet nou deurkom.

“Ek glo ons moet minstens drie van ons volgende vier wedstryde wen om eerste in ons SA konferensie te eindig,” sê Lemmer.

“As iemand vooraf vir ons gesê het ons sal ná 12 rondes met sewe punte voorloop in die konferensie, sou ons dit dadelik gevat het. Daarom is ons steeds in ’n goeie posisie en ons lot is nog in ons eie hande, maar dit is hoe ons gaan reageer op hierdie drie nederlae wat gaan saak maak. Dit help nie ons tob oor wat gebeur het nie. Dit is gedane sake. Wat gaan tel, is hoe ons terugveg. En terugveg sal ons beslis,” verseker hy.

“Ja, dit maak seer dat ons nou drie keer in ’n ry verloor het. Ek kan egter die versekering gee dat ons steeds baie hard werk en kliphard oefen. Dit is beslis nie weens ’n gebrek aan toewyding en entoesiasme dat ons nie wen nie. Ons maak net té veel foute in kritieke stadiums.

“Jy kon ná Saterdag se verloor sien die ouens het seer daar in die kleedkamer en dat dit ’n pynlike ervaring is. Die vasbeslotenheid is egter beslis daar om nou reg te maak en ons weer op die wenpad terug te kry,” sê Lemmer.

Dit is wonderlik om die rugbykultuur in Nieu-Seeland te ervaar en jy kom gou agter hoekom hulle so passievol oor die spel is.
Philip Lemmer

Wat die agttal betref, sê hy hulle speel met groot oorgawe en dat hy trots is op veral die hoeveelheid drieë wat hulle vanaf dryfbewegings druk.

Hy erken die kalmte van ’n Warren Whiteley word gemis en dat jy dit kon agterkom toe Malcolm Marx nie meer daar was nie.

“Tog sit ouens soos Franco Mostert en Kwagga Smith in elke wedstryd alles in.”

Hy het ook die lof besing van Marnus Schoeman wat ’n groot impak op die toer gehad het.

“Hy werk baie hard aan sy spel en is desperaat om ’n indruk te maak en homself te bewys. In die verlede het hy ’n etiket gehad dat hy té veel strafskoppe afstaan by die afbreekpunte, maar ons het dit mooi by hom tuisgebring dat hy nie net moet indons nie en net so ’n bietjie moet terugstaan en dink wat hy doen.

“Hy is honger vir sukses en hy wil die span dien en goed vaar,” sê Lemmer.

Hoe hy sy eerste Australasiese Supertoer as afrigter ervaar het, sê Lemmer dit was “afgesien van die uitslae” baie lekker.

“Dit is wonderlik om die rugbykultuur in Nieu-Seeland te ervaar en jy kom gou agter hoekom hulle so passievol oor die spel is,” sê hy.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.