Al was dit ’n hartverskeurende nederlaag met 30-33 in die doodsnikke vir die Leeus in hul Super-rugbywedstryd die afgelope Saterdag op Ellispark teen die Stormers, glo Ivan van Rooyen, die afrigter, daar is ’n vuur wat hoog brand binne sy spelers.

Ivan van RooyenFoto: Gallo Images
Die Leeus het nou wel reeds twee van hul wedstryde verloor, maar Van Rooyen voel daar hoef nie in sak en as gesit te word nie.
“Dit was só naby, maar uiteindelik tog só ver,” het hy gesê van die wendrie wat die Stormers-senter Ruhan Nel met die laaste beweging van die wedstryd gedruk het.
“Ek is baie trots op die manier waarop ons teruggeveg het. Die ouens was dapper en ons het die plan wat ons vooraf op besluit het, goed uitgevoer.
“Uiteindelik het ons net té veel foute gemaak en daar is sekere dinge waaraan ons aandag sal moet gee. Ondanks die foute wat gemaak is, is dit goed wat reggestel kan word. Daar is dus baie hoop vir ons,” het hy gesê.
Hy was veral in sy skik met die fisiekheid wat Willem Alberts na die agttal gebring het toe hy so halfpad deur die tweede helfte speelkans gegee is.
Dit het die vuur help aansteek, saam met die verskyning van Dillon Smit as skrumskakel in die plek van Morné van den Berg.
Die jongeling Van den Berg was oënskynlik bietjie oorweldig deur die geleentheid en het verskeie foute gemaak, soos om die bal van agter ’n skrum in die hande van sy Stormers-eweknie, Godlin Masimla, te gooi wat deurgenael het vir ’n drie. Verder het hy die bal ook ’n paar keer regstreeks uitgeskop en glad nie aan die verwagtinge voldoen nie.
Foute het die Leeus duur te staan gekom, maar ’n pluspunt was die vertoning van hul losskakel en kaptein, Elton Jantjies, wat uitstekend vertoon het en die terugveg-poging vanaf 15-26 begin het met ’n puik individuele drie.
Ander uitblinkers was Marnus Schoeman en Vincent Tshituka en die Leeus het gewys as hulle hul ritme vind en as ’n eenheid begin funksioneer, hulle weer ’n krag sal wees om mee rekening te hou.
Vra maar net die Stormers.
Punte:
- Drieë: Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Elton Jantjies, Dan Kriel. Doelskoppe: Jantjies (2). Strafdoele: Jantjies (2).
- Drieë: Juarno Augustus, Godlin Masimla, Sergeal Petersen, Ruhan Nel. Doelskoppe: Damian Willemse, Jean-Luc du Plessis. Strafdoele: Willemse (3).