Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus se ‘kopspeletjies’ pla nie

As die Leeus met kopspeletjies besig was deur eers aan te kondig dat Willem Alberts Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Stormers op Ellispark gaan misloop en hom dan in hul 23-tal te kies, het dit die teiken gemis.

John Dobson, die Stormers se afrigter, hou Donderdag ’n ogie oor sy span se oefensessie op Nuweland. Foto: Gallo Images

John Dobson, die Kapenaars se afrigter, was Donderdag nie in die minste gepla oor wat die Johannesburgers met hul voormalige Springbok-losvoorspeler in die mou voer nie.

Op die vraag of dit hom verras en of hy meen dat dit ’n verskil maak, het Dobson gesê die antwoord op albei vrae is “nee”.

“Hy is ’n puik losvoorspeler en ’n Springbok, maar dit neem ’n paar weke om jou voete in die Superreeks te vind. Dit sal vir hom ’n aanpassing wees.

Willem Alberts is in die Leeus se 23-tal nadat hulle vroeër vandeesweek aangekondig het dat hy nie van ’n seer armspier sal herstel nie. Foto: Gallo Images

“Ek is seker hulle gaan hom gebruik om ’n groot impak te maak, maar hy gaan hom vasloop teen menere Frans Malherbe, JD Schickerling en Cobus Wiese van ons plaasvervangersbank af. So, om eerlik te wees, ek is nie te bekommerd nie.”

Dobson se grootste redes tot kommer is egter die verlies aan die Bok-skrumskakel Herschel Jantjies en die ysterlosvoorspeler Jaco Coetzee. Albei sal beskikbaar wees vir aanstaande week se wedstryd teen die Jaguares op Nuweland, maar Dobson moet meet en pas sonder twee van sy uitblinkers in die eerste twee rondes.Hy meen egter dit is ’n goeie geleentheid vir Godlen Masimla om te wys wat agter die oond in hom steek.

“Ek is opgewonde oor Godlen. Hy is deur moeilike tye. Hy was vroeër in sy loopbaan by ons nie ’n puik skopper van agter die skrum nie en het staatgemaak op bresse slaan met die bal in die hand, maar nou is hy fisiek en sy skop net so goed soos Herschel. Albei het geweldig baie gegroei,” het Dobson gesê.

Onder die losvoorspelers skuif Johan du Toit van agtsteman af flank toe om die gaping toe te stop wat deur Coetzee gelaat is.

Juarno Augustus, wat ná ’n besering verlede naweek teen die Bulle teruggekeer het, dra die nr. 8-trui.

“Trokkie (Augustus) is een van ons beste losvoorspelers. Hy het die X-faktor en sy speelstyl is baie dieselfde as dié van Jaco,” het Dobson gesê.

“Daar is ’n persepsie dat Trokkie onfiks is, maar hy het ’n groter enjin as wat mense dink. Voor sy terugkeer teen die Bulle het hy laas laat in Augustus gespeel.”

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 01: Wilco Louw
Wilco Louw. Foto: Gallo Images

In die voorry het Dobson besluit om sy Bok-vaskopstutte te roteer met Wilco Louw wat begin en Frans Malherbe wat na die plaasvervangersbank afskuif. Daar is Donderdag aangekondig dat Louw hom ná die Superreeks by die Engelse klub Harlequins gaan aansluit.

“Die Superrugby-veldtog is die belangrikste oorweging en ons sal Wilco nie weglaat omdat hy ons gaan verlaat nie. Sy kondisionering is baie goed en hy is beweegliker as in die verlede.

“Frans sal vir volgende week se wedstryd teen die Jaguares terug in die prentjie wees. Trokkie, JD Schickerling en Cobus Wiese gaan skerper wees en met Herschel bygevoeg, kan dit ’n formidabele span wees.”

Die Stormers-span is: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Jamie Roberts, Seabelo Senatla, Damian Willemse, Godlen Masimla, Juarno Augustus, Pieter-Steph du Toit, Johan du Toit, Chris van Zyl, Salmaan Moerat, Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Ali Vermaak, Frans Malherbe, JD Schickerling, Cobus Wiese, Ernst van Rhyn, Paul de Wet, Jean-Luc du Plessis.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.