Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus se lakwerk lê Stormers op Nuweland lam
Geen deurkomkans nie... die Stormers-skrumskakel Jano Vermaak word omsingel deur Leeus-verdedigers in Saterdag se kragmeting op Nuweland. Foto: Gallo Images

Die Leeus se afrigter, Johan Ackermann, meen sy span se heldhaftige verdediging in die eerste kwartier van die tweede helfte het die weg gebaan vir Saterdagaand se sege van 29-16 oor die Stormers.

Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat die Leeus met die Stormers op Nuweland kon afreken.

“Daardie eerste 10, 15 minute ná rustyd was bepalend. Ek is geweldig trots op die energie en toewyding waarmee die aanslag afgeweer is,” sê Ackermann.

“Toe ons uiteindelik uit die moeilikheid kom, het ek geweet die ouens is moeg, maar sielkundig gerat.”

Daardie eerste 10, 15 minute ná rustyd was bepalend. Ek is geweldig trots op die energie en toewyding.
Johan Ackermann

Die Stormers het die Leeus se doellyn telkemale aangeval, maar die besoekers se verdediging was puik georganiseer en ook baie fisiek.

In daardie stadium was die Leeus met 22-13 voor en ’n drie vir die Stormers kon maklik die momentum laat swaai het.

Die besoekers het in die eerste helfte ook twee groot uitdagings oorkom. In die sesde minuut was daar ’n kniebesering aan die Springbok-senter Rohan Janse van Rensburg, een van hul sleutelspelers met sy vermoë om oor die voordeellyn te kom.

’n Geelkaart aan die Bok-flank Jaco Kriel, toe hy in sy poging om ’n skop te storm vir Robert du Preez met die deurvolg platgeloop het, het hulle ook nie van stryk gebring nie.

In Kriel se afwesigheid het albei spanne drie punte aangeteken, wat beteken het dat die Leeus met sy terugkeer met 15-13 voor was.

’n Verdoelde drie kort voor rustyd deur Kriel nadat die bal deur die fases geneem is, was ook van kritieke belang.

Die Leeus het vroeg in die wedstryd reeds die rolmaalbeweging ingespan vir ’n drie vir die Bok-haker Malcolm Marx, terwyl Janse van Rensburg se plaasvervanger, Harold Vortser, ’n puik lyn gehardloop het om hul tweede te druk.

Op hul beurt was die Stormers se enigste drie – deur die vleuel Dillyn Leyds – ’n pragstuk. Leyds het sy eie skoppie opgevolg voordat hy gaan druk het. Dit was die soort briljantheid op die aanval wat jy nie kan verdedig nie, maar die Leeus het andersins vir die Stormers bitter min ruimte gegun.

Die Stormers se voorspelers kon ondanks die teenwoordigheid van Bokke soos Frans Malherbe, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit en Siya Kolisi nooit werklik hul gesag afdwing nie.

Op hul eie ingooi by die lynstane was die Stormers weereens kwesbaar – ’n aspek wat opgeknap sal moet word indien hulle sukses wil behaal op hul toer van Nieu-Seeland.

Op hul eie ingooi by die lynstane was die Stormers weereens kwesbaar.

Nóg ’n kwessie wat aandag sal moet kry, is die balans in hul losvoorspeler-kombinasie. Daar ontbreek die Stormers aan ’n fisieke baldraer, terwyl hulle op die verdediging ook sukkel om teenstanders se besit te vertraag.

Die Leeus was egter só fisiek en klinies by die afbreekpunte dat die Stormers eenvoudig nie ’n kans gegun is om besit om te keer of te vertraag nie.

Warren Whiteley, die Leeus se kaptein, was soos Ackermann in sy noppies met die vertoning.

“Ons het geweet dit gaan uiters taai wees en dat dit ons beste gaan verg om op Nuweland te wen. Daardie eerste 15 minute van die tweede helfte het ons ’n groot sielkundige hupstoot gegee. Die ouens het kalm gebly en net op hul volgende taak gefokus,” sê Whiteley.

Puntemakers: Stormers 16 (13): Drie: Dilly Leyds. Doelskop: Robert du Preez. Strafdoele: Du Preez, SP Marais (2).

Leeus 29 (22): Drieë: Malcolm Marx, Harold Vorster, Jaco Kriel, Sylvian Mahuza. Doelskoppe: Elton Jantjies (3). Strafdoel: Jantjies.

Meer oor:  Johan Ackermann  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.