Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus se lostrio-hoofpyn begin reeds

Die Superrugby-reeks het nog nie eens begin nie en die Leeus se afrigter, Ivan van Rooyen, sal reeds kopkrap oor sy lostrio vir die komende seisoen.

Dít nadat Cyle Brink sy haksening in sy regterbeen geskeur het en Woensdag onder die mes sal wees. Hy sal waarskynlik die hele Superreeks misloop.

Cyle Brink op die aanval teen die Bulle tydens die Superrugby-reeks verlede jaar. Foto: Gallo Images

Die Johannesburgers het Sondag in hul Superheld-wedstryd teen die Bulle met Len Massyn, Vincent Tshituka en Marnus Schoeman as lostrio begin, met Brink wat onder die plaasvervangers getel het.

Hy sou nietemin ’n sterk aanspraakmaker vir ’n plek in die beginspan gewees het vir die Leeus se eerste Superrugby-stryd teen die Jaguares in Buenos Aires in Argentinië.

Hy is ’n bielie van 113 kg en ’n steunpilaar in enige pak waarin hy sak. Die Leeus sal in sy afwesigheid heelwat spierkrag inboet.

Brink se afwesigheid is in 2019 deeglik gevoel toe ’n skouerbesering hom langs die kantlyn gehou het. Sy eerste proesel aksie verlede jaar was eers in April teen die Haaie, met die Leeus se pak wat voor dít met tye kleigetrap het.

’n Positiewe brokkie nuus wat Maandag uit die Leeus se kamp gekom het, is dat Ruan Vermaak (knie) en Hacjivah Dayimani (enkel) albei van hul beserings herstel het en moontlik teen die Jaguares oorweeg kan word.

Dayimani sal die week weer voluit oefen terwyl Vermaak vanaf volgende week weer beskikbaar sal wees.

Sou Dayimani se fiksheid vir Van Rooyen tevrede stel, kan die span moontlik met Marnus Schoeman, Roelof Smit en Dayimani as sy lostrio begin.

Ofskoon dié lostrio beweeglik sal wees, sal ’n speler soos Brink se fisieke deugde, veral as baldraer, gemis word.

Smit het boonop die afgelope naweek ’n kuitspier gekneus en sal gemonitor word.

Tshituka kan ook weer vir die nr. 7-trui oorweeg word.

Brink en die beseringspook stap al ’n lang pad saam. In 2018 was ’n moontlike buiging vir die Springbokke vir hom daarmee heen toe hy tydens ’n Bok-oefensessie in Durban sy regterknie beseer het. Hy moes hom toe noodgedwonge aan die Bokke se groep vir die Rugbykampioenskap daardie jaar onttrek.

Brink het in 2019 in Mei ook ’n ligte kniebesering teen die Crusaders opgedoen.

Met Warren Whiteley wat ook lank op die krukkelys was in 2019 moes die Gautengers gereeld skarrel met veranderinge aan hul lostrio.

Van Rooyen sal hoop dat die beseringspook sy span nou met rus laat, veral nadat die belowende senter Louritz van der Schyff en die opwindende Tyrone Green albei van kniebeserings af teruggekeer het.

Van der Schyff was ook die grootste deel van die 2019-seisoen langs die kantlyn, maar het goed gelyk in verlede Vrydag se oefenwedstryd tussen die Leeus en Bulle se B-spanne by Loftus Versfeld.

Meer oor:  Cyle Brink  |  Leeus  |  Superrugby  |  Ivan Van Rooyen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.