Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘Nederlaag beteken nie agteruitgang’

Agteruitgang? Glad nie!

Die flank Vincent Tshituka word deur Handré Pollard grond toe gebring in die spanne se Superrugby-kragmeting op Loftus Versfeld. Tshituka is een van die Leeus se opkomende sterre. Foto: Gallo Images

Baie Leeus-ondersteuners sal nie met Swys de Bruin saamstem nie, tog meen hy die feit dat sy span nie vanjaar in die Superreeks onder die voorste agt spanne tel nie, dui nie daarop dat hulle agteruit geboer het nie.

Ná drie jaar wat die Leeus die eindstryd gehaal het, het hulle vanjaar negende op die kompetisie se algehele puntelys geëindig.

“Ons het 13, 14 spelers verloor en moes vanjaar 11 o.21-spelers inspan.

“Dit is beslis nie agteruitgang nie. Ek is baie opgewonde oor die toekoms. Dit is sleg dat ons verloor het, maar môre skyn die son weer en dan het ons steeds jong talent om mee te werk.

“Ek sal nie die woord agteruitgang gebruik nie. Glad nie.”

Die Leeus-breier het, nadat die Bulle hulle Saterdagaand op Loftus Versfeld met 48-27 afgeransel het en só uit die kompetisie geskouer het, gesê dit is die talent wat dié seisoen by Ellispark deurkom wat hom die mees opgewonde maak.

“Julle (die media) het aan die begin van die seisoen gevra: Wie is Vincent (Tshituka) en wie is Nathan (McBeth)?

“Ek kan 11 sulke spelers noem en hulle het almal op die voorgrond getree.

“Ons het hulle getoets in so ’n tawwe wedstryd, veral sonder ’n Kwagga (Smith) en ’n (Stephan) Lewies en ’n Warren Whiteley in die pak. So leer hulle op die verhoog.

“Ek is ook trots op Malcolm Marx, wat as kaptein ingestaan het vir Kwagga en Warren. Hy is darem maar ’n yster.”

Whiteley was weens beserings merendeels ’n toeskouer in die kompetisie, terwyl Smith ook nie teen die Bulle kon speel nie.

Die Leeus moes vanjaar boonop in die agttal sonder invloedryke spelers soos Franco Mostert en Jaco Kriel, wat nou albei vir Gloucester in Engeland speel, oor die weg kom.

De Bruin meen die telbord Saterdagaand op Loftus het nie die ware stand van sake weerspieël nie.

“Die telling was ná rustyd 31-27 en as ons kop gehou het, kon ons meer druk op die Bulle uitgeoefen het. Ons neem die inisiatief, werk hard, maar mis dan ’n duikslag of twee. Dit is wat gebeur as daar nie genoeg ervaring is nie.

“Maar baie geluk aan Pote (Human) en sy Bul-span. Hulle hét ’n bul-span.”

De Bruin sê daar is “baie positiewe goed wat die Leeus vorentoe kan vat”.

“Ons hoop ons het ’n goeie Curriebeker-veldtog. Ons sal terugkom, maar daar is ’n paar goed waaraan ons moet aandag gee.”

Puntemakers:

Bulle 48 (31): Drieë: Hanro Liebenberg, Marco van Staden, Lizo Gqoboka, Burger Odendaal, Cornal Hendricks, Handré Pollard, Manie Libbok. Doelskoppe: Pollard (5). Strafdoel: Handré Pollard. 

Leeus 27 (19): Drieë: Hacjivah Dayimani, Cyle Brink. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies (4). Skepdoel: Andries Coetzee.

Meer oor:  Warren Whiteley  |  Swys De Bruin  |  Leeus  |  Malcolm Marx
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.