Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus soek nie wraak in Durban, sê Swys
Swys de Bruin, die Leeus-breier, sê sy span koester nie wraakgedagtes teenoor die Haaie in volgende naweek se Superrugby-stryd in Durban nie. Foto: Gallo Images

Swys de Bruin, die Leeus se hoofafrigter, wou nie Saterdagaand aan die aas byt wat na hom uitgegooi is met die vraag of dit eerskomende Saterdag terugbetaaldag vir sy span gaan wees teen die Haaie in Durban nie.

“Nee, dit sê ek glad nie,” het hy geglimlag.

“Ons benader hierdie twee derbies (sy span pak ná die Haaie die Stormers op Ellispark) net soos ons enige ander wedstryd sal.

“Ons gaan na die teenstanders se sterk- en swakplekke kyk en daarvolgens beplan. Ons het vandag se oorwinning nodig gehad, maar gaan nie nou sake vooruit wil loop nie,” het De Bruin gesê nadat sy span kontak met die voorlopers in die Suid-Afrikaanse konferensie behou het deur die Highlanders met 38-29 te klop in ’n opwindende stryd in die Leeukuil op Ellispark.

Ons het vandag se oorwinning nodig gehad, maar gaan nie nou sake vooruit wil loop nie.
Swys de Bruin

“Die Haaie in Durban is altyd moeilik. Verlede jaar het hulle ons goed gelooi daar (31-24),” het hy gesê, sonder om eens te verwys na hoe hulle vroeër hierdie seisoen op hul tuisveld met 42-5 deur Robert du Preez se span verneder is.

Die Leeus gaan dit nou nie uitbrul nie, maar daar sal gewis wraakgedagtes wees om daardie donker dag in hul Superrugby-loopbaan op 5 April vanjaar in ’n mate te beredder.

Die Leeus sal ook die ongewenste rekord waarmee hulle vanjaar sit dat hulle nog nie ’n enkele kragmeting teen ’n Suid-Afrikaanse span kon wen nie, wil regstel.

Dit sal beslis nodig wees indien hulle vir die uitspeelrondes van die reeks wil kwalifiseer. Drie van hul oorblywende kragmetings is teen Suid-Afrikaanse spanne, met hul laaste ligastryd op 15 Junie in Pretoria teen die Bulle.

Hulle kan nie duld dat daar steeds ’n eier langs hul naam is wat seges oor Suid-Afrikaanse spanne betref ná daardie wedstryd nie, want dan is dit neusie verby om tussen die topagt klaar te maak.

Kwagga Smith

De Bruin was ook vol lof vir die kapteinskap van Malcolm Marx, wat weer vir die beseerde Warren Whiteley ingestaan het.

“Hy het in ’n kort rukkie ’n fantastiese leier geword,” sê De Bruin.

Marx het hierop gereageer deur te sê hy het baie geleer deur onder leiers soos Whiteley, Elton Jantjies en Kwagga Smith te speel.

“Ek is nie iemand wat veel wil praat op die veld nie en my leiding is eerder deur hoe ek speel. Ek raadpleeg my spanmaats en hulle lewer ook ’n groot bydrae in my poging as leier,” sê hy.

De Bruin was ook vol lof vir die rol wat Jantjies in Saterdag se sege gespeel het. Hy het onverbeterlik pale toe geskop en volgens die afrigter is hy iemand wat oortyd werk aan sy stelskopwerk in oefeninge.

“Hy het die agterlyn vandag (Saterdag) ook fantasties georganiseer en sy koelkop is van onskatbare waarde vir ons,” sê De Bruin.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Robert Du Preez  |  Durban  |  Johannesburg  |  Stormers  |  Leeus  |  Haaie  |  Superrugby  |  Afrigter  |  Derby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.