Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus wil dié doring uit poot trek

Beveg vuur met vuur.

Dit is die boodskap van Swys de Bruin, hoofafrigter van die Leeus, aan sy spelers vir Saterdag se Superstryd teen die Jaguares op Ellispark.

Hy wil nie hê sy troepe moet terugstaan vir die vurige Argentyne nie.

Joaquin Tuculet van die Jaguares druk ’n drie in sy span se sege teen die Leeus in Buenos Aires in Maart 2017. Foto: Getty Images

“Ons weet hulle speel inklimrugby en ons moet dieselfde doen. As jy ’n tree teruggee vir hul aggressiewe benadering is jy in die moeilikheid. Daarom wil ek sien ons pak hulle op die voorvoet en boer in hul gesig,” sê hy.

De Bruin sê om teen die Jaguares te speel, is soos om teen ’n volle toetsspan te speel.

“Omtrent al hul spelers speel vir Argentinië en hulle is ’n baie sterk span. Daar wag ’n groot uitdaging op ons,” erken hy.

“Ons dissipline gaan baie belangrik wees en dit gaan nodig wees om ons balbesit goed te beskerm. Dit kan fataal wees om die bal teen hulle te verloor, want hulle is dodelik met omgekeerde besit. Net so belangrik soos dit is dat ons dissipline vlekkeloos moet wees, weet ons hul dissipline kan uitrafel en dit is iets wat ons moet uitbuit as dit gebeur,” sê hy.

Die Argentyne is bekend daarvoor dat hulle kan kop verloor as hulle fisiek aangevat word en dit is hoekom De Bruin wil sien dat sy spelers self die pap dik aanmaak.

“Hulle verdedig ook baie goed en skiet vinnig en hard op wat dit betref. Ons sal bedag moet wees daarop,” sê hy.

Ons wil hulle (ondersteuners) beloon met aanvallende rugby en om drieë te druk.

Die Jagaures is juis ’n span wat soos ’n doring in die Leeus se pote is. Die span van die Goudstad het die afgelope twee jaar in Buenos Aires slae gekry en in 2017 was dit ’n naelskraapsege op Ellispark vir die tuisspan.

Al was daar nog heelwat roes aan die Leeus se eerste sege die afgelope naweek oor die Haaie, was De Bruin in sy skik dat hulle wel nog vier drieë gedruk het.

Kontinuïteit gaan nou belangrik wees vir die Leeus om weer op die vlak te kom waaraan hulle gewoond is en daarom sal daar nie sommer getorring word aan die span wat hulle die afgelope naweek laat afskop het met ’n sege nie.

“Daar kan dalk klein verstellings wees, maar nee, ons gaan nie sommer verander nie,” verseker hy.

Hy het ook ’n beroep op die ondersteuners gedoen om in hul getalle op te daag. “Wat die plaaslike tweestryde betref is die ondersteuning altyd goed, maar dit is teen hierdie oorsese spanne wat ons dit nou juis nodig het dat ons ondersteuners daar is om die spelers ’n hupstoot te gee.

“Ons wil hulle (ondersteuners) beloon met aanvallende rugby en om drieë te druk. Hierdie wedstryd is ook drie uur die middag, wat vir my die beste tyd is om te speel. Dit is dan wanneer die toestande die gunstigste is om met die bal te hardloop en die soort rugby op te dis waarin ons glo,” sê hy.

Superrugby-bepalings.

Superrugby-uitslae.

Superrugby-puntelyste.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Leeus  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.