Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus wil hul eie sprokie skryf in eindstryd

Brul die Crusaders én Christchurch stil.

Gaan dit Saterdag derde keer skeepsreg wees vir die Leeus se rugbyspan in die Super-eindstryd, of in ’n driekuns aan eindstryd-teleurstellings eindig?

Die skaal is swaar gelaai ten gunste van laasgenoemde.

Sam Whitelock, kaptein van die Crusaders, en Warren Whiteley, kaptein van die Leeus, Vrydagaand in ‘n ligte luim. Wanneer dié twee spanne egter Saterdag om 09:35 op die veld gaan sal dit egter oorlog wees. Foto: Getty Images

Daar is diegene wat glo indien die Leeus daarin slaag om 13 000 km ver oor 11 tydsones te vlieg, en dan nog boonop maar slegs die vierde Suid-Afrikaanse span nóg te word wat in 54 probeerslae die Crusaders op tuisbodem klop, sal dit nie net die grootste opskudding in die geskiedenis van Superrugby wees nie, maar ook een van die grootstes in sport.

Daar word selfs gesê nie eens Japan se skoksege in 2015 se Wêreldbeker-toernooi oor die Springbokke sal naby daaraan kom nie.

Ook maar goed Swys de Bruin, die Leeus se hoofafrigter, glo in wonderwerke, anders sou dit dalk soos sommige wysneuse ’n mens wil wysmaak, beter gewees het om maar eerder tyd en geld te spaar deur by die huis te bly.

Ja goed, die Leeus kon nog nooit in Christchurch wen nie en het in 2017 op Ellispark in die eindstryd teen die Crusaders verloor, asook vanjaar in die ligafase, maar wie sou nou kon dink Kevin Anderson sou Roger Federer in sy eie agterplaas, die hoofbaan van Wimbledon, streepsuiker laat proe?

Hande op hoeveel het verwag die Italianer Francesco Molinari sou die Britse Ope-gholftitel syne maak met groot name soos Jordan Spieth, Justin Rose, Rory McIlroy en natuurlik Tiger Woods wat hul visier met die aanbreek van die laaste nege putjies op die titel gehad het?

Dit is uit hierdie sprokies in sport wat De Bruin inspirasie put en as motivering gebruik om die magtige Crusaders tot ’n val te probeer bring.

“Ek sien ’n skerpheid en stille vasbeslotenheid in hul oë,” sê hy van sy spelers.

Van my vriende gaan weg en ek wil hulle vir oulaas help inspireer dat ons kan wen.
Elton Jantjies

Die Leeus gaan hul beroep op die broederskap wat tussen hulle bestaan. ’n Einde van ’n era breek vir dié span aan met verskeie staatmakers wat hierna in Europa gaan speel en nie meer as Leeus sal brul nie.

“Van my vriende gaan weg en ek wil hulle vir oulaas help inspireer dat ons kan wen,” sê Elton Jantjies, losskakel .

Een van hulle is die nimmereindigende werkesel Franco Mostert.

Nie net sal sy laaste wedstryd as ’n Leeu hom inspireer nie, maar ook dat hy vanjaar sy rugby namens sy broer, JP, speel. JP se loopbaan as Valke-kaptein is in 2017 kortgeknip ná ’n ernstige motorongeluk waarin hy sodanig beseer is dat hy weer van voor af moet leer loop.

So draf elke Leeu Saterdag in Chistchurch op die veld met sy eie storie van inspirasie, hoe groot of klein ook al.

Tog deel hulle een gemeenskaplike doelwit – om daardie Supertrofee Sondag saam met hulle terug te bring na Suid-Afrika.

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby-Eindstryd  |  Crusaders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.