Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus woeker om weer op wenpad te kom

“Ons was nie goed genoeg in ons wedstryde nie.”

Hierdie erkenning kom van die Leeus se nuwe voorspeler-afrigter en hul voormalige leier op die speelveld, Warren Whiteley.

Hy het gereageer op die Leeus se treurige Super-seisoen – voordat die koronavirus-pandemie toegeslaan het – waar hulle net een van hul eerste ses wedstryde gewen het en slegs vyf ligapunte kon verwerf. Die Leeus lê laaste op die Suid-Afrikaanse groep se puntelys en derde laaste algeheel.

Volgens Whiteley het die laaste paar weke die Leeus genoeg tyd gegee om te besin oor waar dinge verkeerd geloop het en wat gedoen kan word om hulself reg te ruk.

Warren Whiteley sê die Leeus besin tans hard oor maniere om hul spel weer op ’n hoë peil te kry. Foto: Gallo Images

“Ons as afrigters het oop gesprekke via die sosiale mediums gehad om sake te bespreek en weer na ons wedstryde te kyk en maniere te vind hoe ons kan verbeter. Daar was wel goeie dinge wat ons ook gedoen het en waarop ons kan voortbou.

“Daar sal beslis ’n plan wees oor hoe ons die res van die seisoen gaan aandurf,” sê hy.

“Wat die inperking doen, is om die geleentheid vir almal te bied om te groei in watter veld jy ook al is. Of dit nou as rugbyafrigter, -speler, of selfs ’n sakeman of onderwyser is, kry jy nou die kans om te gaan stilsit en dink oor jou lewe en wat jy kan doen om die toekoms vir jou blinker te maak wanneer dinge weer terugkeer na hoe ons dit omtrent gehad het,” vertel Whiteley.

“Hier by die Leeus besin ons ernstig oor die posisie waarin ons is met ons spel vanjaar en almal werk saam om met oplossings te kom wat ons spel sal lig,” sê hy.

Whiteley, wat as ’n Durbaniet grootgeword het, sê hy voel werklik jammer vir die Haaie, wat bo-aan die algehele puntelys was toe Superrugby se hek gesluit moes word.

Uit ’n sielkundige oogpunt is hierdie ’n baie moeilike tyd vir almal betrokke by die spel.
Warren Whiteley

“Hulle het baie goed gespeel en dit moet vir hulle erg wees om nou nie op daardie momentum te kan voortbou nie.

“Ek probeer my indink hoe stukkend my hart sou wees as ons in daardie paar jare wat ons so goed gedoen het en die eindstryde gehaal het, so halfpad deur die seisoen moes ophou terwyl ons al die momentum gehad het. Daarom bloei my hart eintlik nou vir die Haaie,” erken Whiteley.

“Uit ’n sielkundige oogpunt is hierdie ’n baie moeilike tyd vir almal betrokke by die spel. By die Leeus is ons darem nou die kans gegee om te herbesin om weer ’n wenspan te word. As afrigters is ons verenig daarin om antwoorde op ons vrae te vind en die wenkultuur terug te bring na Leeus-rugby.

“Daar is beslis nie ’n gebrek aan passie nie en ons bestudeer video’s van wedstryde en bestudeer die spel om te kan groei en daardie vlam van Leeus-rugby te laat brand,” sê hy.

Whiteley glo ook dit gaan belangrik wees om weer terug te kom op die speelveld, want dit is volgens hom daar waar jy oplossings kry vir jou probleme.

Meer oor:  Warren Whiteley  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.