Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Slag van Sydney: Lekker, Southern Kings!

Lig die duime dié keer vir die Southern Kings se voorspelers!

Nadat die Kings se vlugvoetige agterspelers die tonge die laaste paar weke los gehad het met hul blink spel, was dit Vrydag die Kings se voorspelers wat na die partytjie toe gekom het.

Die Kings was in die Allianz-stadion in Sydney met 26-24 teen die Waratahs baas en dit was die Oos-Kapenaars se agttal wat die oorwinning verseker het.

Geluk is ’n oorwinning oor die Waratahs in Sydney! Die Kings vier fees na hul sege in die Allianz-stadion. Van links is Chris Cloete (6), Johan Steyn (21), Tyler Paul en Pieter-Steyn de Wet. Foto: Getty Images

Dit was die Oos-Kapenaars se tweede oorwinning in vanjaar se reeks.

Met net vier minute in die wedstryd oor, het die Kings se voorspelers ’n strafdrie van ’n skrum naby die Waratahs se doellyn afgedwing.

Daardie drie het aan hulle ’n voorsprong van nege punte besorg.

Die Waratahs se vleuel Taqele Naiyaravoro het in die laaste sekonde ’n drie gaan druk wat deur Bernard Foley verdoel is, maar dit was te laat.

Die Kings was eindelik op hul Australiese toer – waar hulle net sowel teen die Force en die Reds ook kon gewen het – bo.

Die Kings se voorspelers het vir ’n slag oorheers. Hulle het die Waratahs in die skrums laat kreun en in die lynstane was Wilhelm van der Sluys en sy maats ook beter as hul teenstanders.

By die afbreekpunte het manne soos Tyler Paul, Chris Cloete en Michael Willemse ook met aggressie hul stempel afgedruk.

Daar is vooraf verwag dat dit ’n drieëfees sou wees, maar albei spanne het hul verdediging opgeknap.

Vir die wenspan moet die een buitesenter, Berton Klaasen, se naam genoem word. Hy was soos ’n masjien en het geduik wat voorkom.

Die Kings se kaptein, Lionel Cronjé, laat waai teen die Waratahs. Foto: Getty Images

Die Kings was ongelukkig om met die rustyd met 7-17 agter te loop. 

Dit kon net sowel hulle gewees het wat twee ekstra drieë op die telbord gehad het, want twee van die Waratahs se drieë was vloekskote.

In al twee gevalle was dit die Kings wat sterk op die aanval en naby die Waratahs se doellyn was.

Die een keer het die Kings die bal vorentoe laat val, Israel Folau het dit opgepik en laat spaander. Folau het vir Rob Horne aangegee en hy is deur vir ’n drie.

Die tweede keer was dit Cameron Clark wat die bal op sy eie doellyn onderskep het en die Kings laat sug het met ’n drie.

Die Aussies se eerste drie is in die 13de minuut aangeteken toe Foley dwars geskop het in die Kings se kwartgebied. Foley was lastig in die lug en het verseker dat Taqele Naiyaravoro die bal kry en druk.

Kort voor die rustyd het Justin Forwood, wat ook sterk geskrum het, vir die Kings oorgeduik vir ’n drie.

In die tweede helfte het die Waratahs heelwat hanteerfoute begaan en hulle het ook nie met soveel doelgerigtheid as die Kings gespeel nie.

Selfs toe Cloete vir tien minute van die veld af was weens ’n hoogvat, het die Kings vasbeslote vasgeskop.

Puntemakers:

Kings: 26 (7): Drieë: Justin Forwood, Masixole Banda, Michael Willemse, strafdrie (7 punte). Doelskoppe: Lionel Cronjé (2). 

Waratahs: 24 (17): Drieë: Taqele Naiyaravoro (2), Rob Horne, Cameron Clark. Doelskoppe: Bernard Foley (2).

Superrugby-bepalings

Superrugby-uitslae

Superrugby-puntelyste

Meer oor:  Sydney  |  Superrugby  |  Kings  |  Waratahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.