Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Libbok se skopstewel onder loep

Doer Onder is dit die Melbourne Rebels en in Nieu-Seeland nogmaals die Crusaders, maar dit is steeds nie duidelik watter span vanjaar in Suid-Afrika die pas aangee in die Superreeks nie.

Voordat die agtste ronde Vrydag begin het, was die Leeus ná ses wedstryde boaan die plaaslike afdeling met 18 ligapunte, gevolg deur die Bulle (17) en die Haaie (16).

Die Bulle-losskakel Manie Libbok sal op ’n nat Loftus onder druk wees om die Jaguares takties uit te oorlê Foto: Gallo Images

Die Stormers, wat Vrydag in Brisbane teen die Reds hulle derde toerwedstryd agtereenvolgens verloor het, is sover die houtlepel-kandidaat (14 konferensiepunte), maar al die ander Suid-Afrikaanse spanne moet nog in Australasië gaan toer.

Die Bulle het vroeg in die reeks gelyk na die kampioenspan van ouds en hulle het nog nie een van hul vier plaaslike derbies verloor nie, wat twee wegoorwinnings insluit.

By Ellispark word daar vertel die Leeus is weer die groot hoop vanjaar, met nederlae teen die Bulle en die Stormers oënskynlik vergete.

As die Bulle in 2019 die eerste keer in baie seisoene die uitspeelfase wil bereik, sal hulle ook teen oorsese teenstand welslae moet behaal.

So goed soos wat Pote Human se span al die seisoen was, so treurig was hy in Buenos Aires teen die Jaguares en op Loftus Versfeld teen die Chiefs.

Die Bulle kry Saterdag op Loftus in die herontmoeting met die Argentynse span die kans om te verhoed dat daar ’n stigma hieroor posvat.

Duane Vermeulen, die derde Bulle-kaptein sover die seisoen, het die afgelope week erken hulle was vrotsig in die vorige wedstryd teen die Jaguares.

“Ons skuld onsself en ons ondersteuners ’n baie beter poging. Dié span is tot baie beter in staat,” het hy toegegee.

Vermeulen-hulle gaan dit wel met ’n gelapte span moet doen.

Human, wat ses veranderinge en ’n posisionele skuif aan die span gemaak het wat die Haaie verslaan het, het met sy span-aankondiging gesê hy is nie bekommerd hieroor nie.

Die vraag is: wat gaan die impak wees van die Bulle wat minus die Springbokke Handré Pollard en Jesse Kriel in die agterlyn is?

Daar word nog reën in Pretoria voorspel en dit pas die tuisspan nie met Manie Libbok op losskakel nie.

Libbok is ’n begaafde aanvallende speler, maar hy is takties nie van dieselfde gehalte as Pollard nie.

Die Bulle se swak vertoning in Buenos Aires was toevallig ook in reënweer.

Daar is altyd ’n eerste keer, maar die Jaguares se vertonings in Suid-Afrika sedert hulle van 2016 in die Superreeks meeding, is treurig verby.

Die Jaguares wat in Buenos Aires die teenstanders op ’n streep afstof en die een wat gewoonlik in Suid-Afrika kom toer, is twee verskillende spanne.

Hulle was sedert 2016 in ál 13 wedstryde aan die verloorkant in wegwedstryde teen die vier plaaslike franchises.

Gonzalo Quesada, die Jaguares se breier, het self ’n hele paar veranderinge aan sy span gemaak.

Spanne

Bulle: Divan Rossouw, Johnny Kotze, Dylan Sage, Burger Odendaal, Jade Stighling, Manie Libbok, Embrose Papier, Duane Vermeulen (k), Jannes Kirsten, Ruan Steenkamp, Eli Snyman, Hanro Liebenberg, Trevor Nyakane, Corniel Els, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Jaco Visagie, Simphiwe Matanzima, Conraad van Vuuren, Thembelani Bholi, Tim Agaba, Ivan van Zyl, JT Jackson, Cornal Hendricks.

Jaguares: Emiliano Boffelli, Matías Moroni, Matías Orlando, Jerónimo De La Fuente (k), Ramiro Moyano, Santiago González Iglesias, Tomás Cubelli, Javier Ortega Desio, Tomás Lezana, Pablo Matera, Marcos Kremer, Guido Petti, Santiago Medrano, Julián Montoya, Mayco Vivas. PLAASVERVANGERS: Agustín Creevy, Nahuel Tetaz Chaparro, Enrique Pieretto, Tomás Lavanini, Rodrigo Bruni, Felipe Ezcurra, Domingo Miotti, Joaquín Tuculet.

  • Skeidsregter: Brendon Pickerill.
  • Assistent-skeidsregters: Rasta Rasivhenge, Mike Fraser.
  • TV-skeidsregter: Willie Vos.
  • Afskop: 15:05 (SS 1).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Bulle  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.