Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Loftus-nagmerrie vir Bok-breier

In die konteks van die Wêreldbeker-toernooi en die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, se hunkering na sekerheid oor wie sy beste groep spelers is vir dié toernooi, was die Bulle se vertoning Vrydagaand op Loftus Vers­feld teen die Crusaders niks anders nie as ’n yslike ramp.

Die verskil tussen die twee spanne, én die opponerende individue, was “afgryslik”, om die minste te sê.

RG Snyman en Lizo Gqoboka van die Bulle vat Michael Alaalatoa van die Crusaders vas in Vrydag se Superrugby-wedstryd op Loftus. Foto: Gallo Images

Nadat net ’n raps meer as 7 000 toeskouers die vorige naweek op Loftus was, is ’n bemarkingsaksie in werking gestel wat die gevoel van verlatenheid in die stadion in ’n bruisende Bulle-gees moes omskep.

Die idee was goed. 20 000 mense het Vrydagaand opgedaag. Maar ai, die tydsberekening om kaartjies vir die prys van grondboontjies weg te gee, was vrot. Om na die getjommel van jou span teen die wêreld se beste te moet kyk, maak selfs van ’n gratis kaartjie nie ’n winskoop nie.

Met die uurglas wat vir Erasmus uitloop om sekerheid oor sy bestes te verkry, was daar op Loftus eerder onsekerheid oor die spelpeil van die Bokke en die Bok-aanspraakmakers.

Handré Pollard is een van die prominente spelers wat die toets gedop het. Sy gesag om spel te bepaal en rigting te gee, het ontbreek. Toegegee, sy skakelmaat, André Warner, het gesukkel, maar waar is die Pollard wat beheer kan neem? Wat takties slim die Bulle op die voorvoet behoort te hou?

Dit was eerder die kleintjie wat die grote oorskadu het, want met sy tenger postuur van 86 kg het Richie Mo’unga Pollard (96 kg) lomp laat lyk.

As Pollard by die toernooi in Japan die Bok-generaal gaan wees, sal hy veel meer moet doen, veel meer reg moet doen en veel meer konstruktief moet bydra as spelskepper.

Mo’unga was as sy eweknie in ’n ander klas. Meesterlik in uitvoering, in sy besluitneming én sy bydrae (20 punte) tot sy span se vyfster-sege.

Pollard was nie die enigste een van die Bulle se Bokke wat ver benede toetspeil vertoon het nie.

RG Snyman was flou op die verdediging toe akkurate lakwerk van hom vereis is. Die veteraan-haker Schalk Brits was maar effentjies en Trevor Nyakane was ook g’n bielie nie.

Onbeholpenheid op die verdediging en oorhaastigheid op die aanval was grotendeels die Bulle se ondergang.

Terwyl die Bulle met lang aangeë spasie wyd wou skep vir snellers soos Rosko Specman en Cornal Hendricks, het die Kiwi’s hul spel afgewissel en die Bulle hoenderkop gehardloop.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Loftus Versfeld  |  Crusaders  |  Springbokke  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.