Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Magtige Marx aan voorpunt van slagting

Die yster-haker Malcolm Marx het in ’n onderhoud verlede week gesê hy glo nie sy naam kan al opgeskryf word in die Springbok-span vir die Wêreldbeker-toernooi in September in Japan nie.

Die Leeus-vleuel Courtnall Skosan was ’n doring in die Sunwolves se vlees. Foto: Getty Images

Maar wanneer hy vertonings lewer soos dié van Saterdag in Singapoer, besef jy dis pure bog.

Die Leeus-kaptein het Saterdag van voor gelei in sy span se maklike oorwinning van 37-24 oor die Sunwolves, met twee drieë, twee gesteelde balle op die grond in sy eie 22, yslike verdediging en standvastigheid in die vaste fasette wat sy reputasie as wêreldster net weer gestand gedoen het.

Die Johannesburgers se resep was eenvoudig: maak eers voor sag, en slaan dan agter. Die eerste uur was bespreek vir die sagmaak-proses, met albei Marx se drieë van rolmaalbewegings, en dié van die skrumskakel, Nic Groom, en losskakel, Elton Jantjies, wat hul oorsprong in die rolmaal gehad het. Daarna het die vinnige manne agter die laaste spykers in die doodskis geslaan.

Die Sunwolves het vir die eerste 50 minute bitter gevaarlik met die bal in die hand gelyk – gevaarliker as die Leeus – maar Marx-hulle het geduldig verdedig en gewag vir hul gasheer se tenk om leeg te raak voordat die agterlyn begin amok maak het.

Kort ná die uur-merk het hulle uiteindelik die soort drie gedruk wat hul ondersteuners van hulle verwag.

Aphiwe Dyantyi, wat die laaste twee wedstryde op die krukkelys deurgebring het, was toe pas van die bank af op die veld en sy hele houding het gewys hoeveel hy dié arena gemis het. Toe die kwiksilwer-senter Lionel Mapoe ’n bres slaan en die Bok-vleuel in die spasie sit, het Dyantyi een heupswenk gegee, die bal na Groom geslinger en saam gejuig toe Mapoe afrond.

Die Sunwolves het lekker gehardloop, ja, maar die flair wat tot daardie Leeus-drie gelei het, het hulle nooit gewys nie.

Uiteindelik sou dit nietemin nalatig wees om hulle nie te prys nie. Net ’n dag nadat hulle gehoor het die Sunwolves se Superrugby-avontuur eindig ná die 2020-reeks, het hulle steeds gespeel soos ’n eenheid met iets om te bewys. Het hulle hul besit in die eerste helfte beter beskerm, sou die Leeus straks ’n veel slegter aand gehad het.

Goor was die Leeus se besoek aan Singapoer egter glad nie, en die positiewes is aansienlik meer as die negatiewes. Die jong heelagter, Tyrone Green, lyk met elke wedstryd meer na ’n potensiële superster, Courtnall Skosan het weer gewys hy sal geen span in die steek laat nie en Mapoe se vonkelvoete het nóg ’n span na lug laat gryp.

Negatiewes was daar wel: Die regtervleuel, Sylvian Mahuza, se oorywerigheid het hom in die koelkas laat beland omdat hy ’n bal afgeslaan het en hy het gesukkel om momentum met die bal in die hand te kry. Jantjies het vier stelskoppe gemis in een van sy meer teleurstellende skopvertonings en Groom het te veel kortskoppies in die keelgat van die Sunwolves se gevaarlike Gerhard van den Heever afgeskop.

Maar daaraan kan hulle werk. Die lostrio-eksperiment met die slotte Stephan Lewies en Ruan Vermaak het geslaag en die Leeus het uiteindelik heel gemaklik ’n oorwinning met ’n bonuspunt bewerkstellig.

Puntemakers: Leeus 37 (12): Drieë: Malcolm Marx (2), Nic Groom, Elton Jantjies, Lionel Mapoe, Hacjivah Dayimani. Doelskop: Elton Jantjies (2). Strafdoel: Jantjies. Sunwolves 24 (7): Drie: Strafdrie, Rahboni Vosayaco (2). Doelskoppe: Hayden Parker (2). Strafdoel: Parker.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Sunwolves  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.